South Coast Fever

Wouter se Watergat

"Ons stry oor Navalny, Putin en Trump, en rou oor die Sharks..."

Weer ‘n stillerige week, maar die gesprekke was alles behalwe stillerig. Politiek, in die besonder internasionaal, en rugby het weereens oorheers met verskillende onderwerpe, en bo-aan die lys was die dood van die Russiese opposisie-politikus, Alexei Navalny, die jongste uitlatings van Donald Trump, en die Sharks se soveelste nederlaag.

Die meerderheidsmening was dat Navalny se dood in ‘n strafkamp naby die Noordpool net nog ‘n bewys is van hoe gewetenloos President Vladimir Putin van Rusland is. Daar was by min van ons twyfel oor wie sy dood veroorsaak het, hoewel daar vrae was oor waarom Putin so-iets op hierdie tydstip sou doen. My eie siening is indien sy dood wel nie regstreeks in opdrag van Putin was nie, kon die behandeling wat hy die afgelope jare ontvang het, soos bv. marteling en eensame opsluiting, dit veroorsaak het.

Die feit is, Putin het hom reeds voorheen probeer vergiftig. Wat my rêrig verbaas het, was die steun vir Putin by ons besoekers wat pro-Trumpmense is. Dieselfde mense wat niks daarin verkeerd sien dat Trump verklaar het die lede van NAVO wat nie hul volle lidmaatskapgeld betaal nie, deur Rusland aangeval mag word. Trouens, het hy gesê, hy sal Putin aanmoedig om met hulle te doen net wat hy wil.

Oom Pottie het amper in sy Namibiese skuimkop gestIk toe ‘n egpaar van Pretoria, Jan en Stienie Dirksen, hom aangevat het omdat hy gesê het Trump het geen idee van wêreldsake nie, wil alles soos ‘n sake-onderneming bestuur, insluitende Amerika, en het geen lojaliteite aan enigiets of iemand behalwe homself nie. Gelukkig het Pottie opgestaan, kombuis toe geloop en ‘n konfrontasie vermy.

Die verstommendste argument van die pro-Trump en -Putinmense was dat Putin ‘n Christen is want hy gaan gereeld kerk toe, en dat Donald Trump deur God gestuur is om wal te gooi, onder meer teen die ‘nuwe wêreldorde’, die ‘cabal’ en die ‘swamp’ in Amerika. Ons het die gesprek vinnig in ‘n ander rigting gestuur. Die invloed van die pro-Trump/MAGA-propagandabronne op Suid-Afrikaners bly vir my onverklaarbaar. Of dalk nie? Bloot eenvoudige oningeligtheid?

Die rugbypraatjies was ook nie baie opbeurend nie. Oom Pottie se geliefde Lions het weer verloor, en hy was twee dae lank in sak en as, en ek moet sê, ons Sharks-ondersteuners was nie ver daarvandaan nie. Weer verloor teen die Stormers. In Durban. Onderwyl hulle nog twee Springbokke, André Esterhuizen en Trevor Nyakane ten duurste wil koop. Na die wedstryd het John Plumtree verklaar die laat terugkeer van die Wêreldbeker-Springbokke, ‘n herorganisasie agter die skerms ( backroom overhaul ) , wat dit ookal mag beteken, en beserings het sy eerste jaar terug in sy afrigterspos erg bemoeilik. My vraag is: is die span werklik ‘n eenheid? Speel hulle vir mekaar?

Ons loopstorie kom van Faan Hendriks van Manaba. ‘n Vroueregter vat geen nonsies oor haar status nie. ‘n Ou dame verskyn voor haar as getuie. Verskeie kere spreek die ou dame die regter aan as ‘My Liefie’. Uiteindelik kyk die regter die ou dame reguit in die oë en sê: ‘Dis My EDELAGBARE Liefie.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button