South Coast Fever

Stiltetyd

"Die geroep van die gelowige is nie uit wanhoop nie..."

Hulp is net ’n telefoonoproep ver, of so lui die advertensie vir die een of ander nooddiens. Elkeen van ons verkeer die een of ander tyd in die nood. Uit die dieptes roep ek na u, sê die Psalmis in Psalm 130.

Die Psalmis se geroep is iets waarmee ons almal ons kan vereenselwig. Daardie dieptes kan verskillende vorme aanneem of op verskillende maniere tot uitdrukking kom. Hartseer, depressie, mishandeling, vernedering, siekte is alles dinge wat mens uit die dieptes kan laat roep.

Een van die ou kerkvaders het die dieptes vergelyk met Jona se ervaring in die walvis. Tog is die geroep van ’n gelowige nie een van wanhoop nie. Die geroep na uitkoms in nood van die Psalmis is een van vertroue en verwagting, selfs al sou hy lank moes wag om uitkoms te sien.

Dit is dringend nodig dat Suid Afrika in hierdie verkiesingsjaar weer hoop sal kry dat dinge beter sal wees as wat dit nou is. Hoe dit kan gebeur is nie altyd so maklik om uit te spel nie, maar die Psalm gee tog vir gelowiges ’n manier om hul nood voor God te verwoord.

Soos wagte op ’n stadsmuur destyds in die donker op die môrelig gewag het, so spoor die bidder ons aan om saam met hom te wag op God se reaksie op ons hulproep. Ons moet vertrou dat die Here weer lig sal gee ná die donker dieptes wat ons lewe bedreig en sinloos maak. God word nie as die ongenaakbare voorgehou nie, maar die een by wie daar vergifnis en bevryding is. Vergifnis vir die foute van gister en bevryding van watter bande jou ook al knel.

Uit watter dieptes roep jy vandag na die Here? As jy so na God roep is dit nie ’n kreet wat Hy onbeantwoord sal laat nie. Jy is ook nie alleen in jou nood nie. Daar is ander wat ook in die dieptes verkeer. Stuur God jou nie juis ook na so iemand toe nie? In die lydenstyd onthou ons dat Jesus Christus van God verlaat is, sodat elkeen wat glo nimmer weer deur God verlaat sal word. Roep maar uit die dieptes na Hom, Hy luister.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button