South Coast Fever

Medici: ‘Matig drink help nie, los alkohol heeltemal’

Opinion piece by Johan Pretorius.

Toe ek verlede naweek laatmiddag op die stoep sit met my glas Skotse wonderwater in my hand, sê my beter helfte vir my ‘Het jy gesien die mense wat weet sê indien jy gesond wil bly en langer leef, moet alkohol totaal vermy word’? Natuurlik was ek verbaas en half-geïrriteerd omdat ek juis glo aan die sienswyse van talle mediese navorsingsinstansies die afgelope jare dat die matige gebruik van alkohol, veral whisky, inderwaarheid goed is vir iemand met bv. ‘n hartkwaal, of ‘n gesonde mens wat gesond wil bly. ‘Waar kom jy daaraan?’, vra ek vies-nuuskierig. ‘Kyk hier’, en ‘n rekenaar word op my skoot neergesit met ‘n Daily Maverick-berig geskryf deur Liesl Pretorius van die Bhekisisa-sentrum vir Gesondheidsjoernalistiek op die skerm. Die opskrif is ‘Is it cheers to saying cheers? Why science says no to drinking alcohol’.

My belangstelling is geprikkel. Die artikel begin deur te verwys na die aanvaarding 30 jaar gelede dat ‘n drankie of twee per dag goed vir jou hart is, maar dat onlangse navorsing bewys selfs ‘n klein bietjie alkohol sekere soorte kanker kan laat ontwikkel. In 1991 het ‘n Amerikaanse TV-joernalis Frankryk toe gegaan om te probeer bepaal waarom die Franse met hul hoë vetinhoud-dieëtminder hartaanval-sterftes het as die Amerikaners. Franse medici het hom meegedeel die drink van wyn, veral rooiwyn, is waarskynlik die antwoord op hierdie paradoks. Hierdie verduideliking is wêreldwyd as ‘n riglyn aanvaar, maar omstandighede het intussen verander.

Die Amerikaanse Kankervereniging se mening was vroeër dat vroue wat drink, nie meer as een drankie per dag moet drink nie, en mans twee ( ‘n dop se definisie was 355 ml. bier, 148 ml. wyn of 44 ml. spiritualieë ). In sy riglyne van 2020 verklaar die vereniging egter vir die voorkoming van kanker is dit beter om gladnie te drink nie, want navorsing toon veral borskanker kan deur alkohol bevorder word. Tot in die middel van verlede jaar het die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika mense aangeraai om matig te drink, een drankie per dag vir vroue en twee vir mans. Toe Liesl Pretorius daaroor navraag doen, het die Stigting haar verwys na ‘n verklaring van die Wêreld-hartfederasie dat ‘daar geen veilige vlak van alkoholinname is nie’.

Die rede waarom wetenskaplikes vroeër gemeen het matige drinkers se risiko om hartaanvalle te kry is minder, was gedeeltelik omdat alkohol die ‘goeie’ cholestrolvlakke verhoog het. Hulle meen nou egter dat die ‘goeie’ effek van alkohol waarskynlik oordrewe is. ‘n Senior wetenskaplike by die Sentrum vir Verslawing en Geestesgesondheid in Toronto, Kanada, verwys na ‘n studie verlede jaar wat geen bewyse gevind het dat Chinese wat gereeld, maar min drink, se harte gesond is nie.

In ‘n studie deur die Europese Joernaal vir Openbare Gesondheid in 2017 is bereken in daardie jaar kon daar 23 000 minder nuwe kankergevalle in die Europese Unie gewees het indien mense wat tot twee drankies per dag gedrink het, gladnie gedrink het nie. Die kanker wat veral met matige drankinname verbind kon word, was borskanker. Bekhisisa is meegedeel dieselfde tendens sal elders ter wêreld voorkom, ook in Afrika.

In ‘n analise van die Globale Siektestudie in 2020 is gewaarsku dat ‘n gestandaardiseerde stel riglyne vir alkoholinname ongeldig is. Verskeie faktore moet in ag geneem word soos bv. die ouderdom van mense en waar hulle woon. Die outeurs beveel aan dat mense tussen 15 en 39 alkohol moet vermy, want die effek daarvan kan bykomende nadelige gevolge hê, bv. motorongelukke en struwelings. In die geval van ouer mense is dit meer gekompliseerd.

Matige alkoholgebruik kan dalk die risiko vir hartprobleme verminder, maar dié vir borskanker verhoog. Charles Parry, ‘n epidemioloog van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê ouer mense moet nie goedsmoeds aanvaar dat matige drankgebruik hulle sal bevoordeel nie. Hy verduidelik dat mense se individuele omstandighede verskil, en dis riskant om ‘n algemene stelling oor bevolkingsgesondheid op hulself van toespassing te maak.

Kanada is een van die lande wat verlede jaar sy riglyne vir alkoholinname aangepas het, en dit verskil van die riglyne van 2011. Destyds is aanbeveel dat vroue nie meer as tien drankies per week drink nie, en mans 15. Die nuwe riglyne beveel aan dat mense slegs twee drankies per week moet drink as hulle ‘n siekterisiko wil verminder. Die medici in beheer van die navorsing hieroor sê dit beteken as ‘n Kanadees tot twee drankies per week drink, is die kanse dat alkohol ‘n vroeë sterfte veroorsaak een uit 1 000. Indien dieselfde persoon tot ses drankies drink, word dit een uit 100.

Die uwe het goed oor hierdie inligting nagedink, en aanvaar die bevindings is geldig. Maar waarom moet ek nou op amper 80-jarige ouderdom, redelik gesond, totsiens sê vir ‘n enkelmout-whisky op ys of ‘n lekker glasie wyn of twee? Nee wat. Dit laat my dink aan die Japanse Kamikaze-vlieënier wat ophou rook het want dit was sleg vir sy gesondheid. Maak nie sin nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button