South Coast Fever

Wouter se Watergat

Bongi Mbonambi het in die Lionswedstryd sy naam bollie gemaak...

Ons het verlede naweek een van die opwindendste, lewendigste maar ook teleurstellendste Saterdagmiddae in jare beleef. Die wedstryd tussen die Lions en die Sharks was net wat ons nodig gehad het om die Watergat van hoek tot kant vol te maak. Oom Pottie het bygedra tot die voorafgeraas oor die wedstryd deur die hele verlede week aan almal wat wou luister te vertel die Lions, natuurlik sy gunstelingspan, gaan die Sharks opfrommel op Ellispark, waar hyself in sy jong jare vir Simmer and Jack stut gespeel het teen Diggers, Rand Leases en al die ander spanne van destyds.

Net voor die wedstryd het hy vol bravado en vertroue voorspel dat die Lions met meer as 20 punte sou wen. Niemand het hulle eintlik aan hom gesteur nie, en van die Sharks-ondersteuners het goedig, sommige nie so goedig nie, met hom gespot. Ek het hom gemaan om nie so vol vertroue te wees nie omdat ek geweet het wat sou volg indien die Lions verloor. Die gebruiklike geween en gekners van tande van epiese proporsies.

Die wedstryd het begin en almal het gewag vir die Sharks se eerste punte. Die strafskop is toegeken, en ons het 3-0 voorgeloop. Pottie het niks gesê nie, maar senuweeagtig die een stukkie droeë wors na die ander geëet. Toe Sanele Nohamba kort hierna sy skitterende drie druk, het Pottie amper aan ‘n stukkie wors verstik toe hy opspring. Namate die wedstryd gevorder het, het hy, die enigste luidrugtige Lions-ondersteuner in die Watergat, alhoemeer selfvertoue gekry terwyl ons Sharksmense gewonder het wat aan die gang was en alghoe mismoediger geword het. Die Sharks het wel net nog een wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap gewen, en het ‘n swak rekord in die algemeen, maar hulle is tog seker in staat om die Lions, sonder enige groot name, te klop?

Ewenwel, die res is geskiedenis. Oom Pottie het homself in ons frustrasie verlustig, asof hy wou weerwraak neem vir die tye toe ons hom gekasty het wanneer die Lions verloor. Toe die eindfluitjie blaas was hy soos die spreekwoordelike kat wat room gekry het. Ons het hom bloot laat begaan, wetende dat die volgende teleurstelling vir hom in die toekoms wag. Die feit is, en dis nie nuus nie, daar is iets verkeerd by die Sharks. Hulle hou aan koop, pas weer twee staatmakers van die Lions gelok, maar hulle verloor gereeld. Bongi Mbonambi het sy naam ook bollie gemaak deur die manier waarop hy met die skeidsregter gepraat het. Sy het dit nietemin baie goed gehanteer.

Verder niks te rapporteer nie, behalwe dat ons nie kan verstaan wat met die Blitsbokke aan die gang is nie. Dalk moet die afrigter gepos word. Dis egter ‘n gesprek vir later.

Ons glimlag van die week handel oor Jannie van Gauteng wat op ‘n Kaapse strand speel en maatjies maak met ‘n Bruin seuntjie. Na hulle ‘n rukkie gespeel het sê Jannie vir sy maatjie: ‘Jy’s seker ‘n local, want ek sien jou voortanne is weg.’ Die maatjie sien Jannie se draadjies en sê vir hom: ‘En djy’s seker van Gauteng? ‘Hoe’t jy geweet?” vra Jannie. ‘Want ek sien djy het burglar bars op djou tanne!’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button