South Coast Fever

Jou kind is dalk in groot gevaar in die kuberrruim

Blog piece by Johan Pretorius.

As die oupa van drie kleinkinders tussen die ouderdomme van 11 en 15 jaar, en omdat ek elke dag met hulle te doen kry, is ek deeglik bewus daarvan dat hulle baie tyd op hul selfone bestee. Hul ouers verseker my hulle het al die nodige stappe op hul selfone en rekenaars gedoen om te verseker dat die kinders nie toegang het tot ongewensde materiaal of die teikens van mense met bose intensies kan word nie.
Dit stel my gerus, maar in my agterkop weet ek niemand kan 100% seker wees dat die kuberboewe nie maniere vind om die veiligheidsmeganismes te omseil nie. Ek bly oortuig daarvan dat hulle wel deur die ‘veiligheidsomheining’ breek, en dat kinders hul ouers nie altyd daarvan vertel nie.

Ewenwel, ek het besluit om hierdie saak te opper na aanleiding van ‘n interessante en baie insiggewende bydrae op die webwerf Afrikaans.com oor presies hierdie onderwerp, met die opskrif ‘Kuberveiligheid: Beskerm jou kind so’, deur Annelie van Jaarsveldt. Ek plaas ‘n opsomming hier ter inligting van mense met jong kinders wat dalk nie besef hoe groot die gevaar is nie.

Baie van ons onthou nog die dae van ure in die biblioteek spandeer om navorsing vir ’n skooltaak te doen. Sommige van ons het die voorreg gehad om ensiklopedieë tuis te hê en toe ons eers toegang tot ’n persoonlike rekenaar gekry het en later in die laat negentigs en vroeë 2000 die multimedia- digitale ensiklopedie van Microsoft, Encarta, op CD-ROM of DVD kon aflaai, het skooltake ’n ander betekenis gekry.

’n Hele nuwe wêreld het oopgegaan, met die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI) is die moontlikhede legio en iets waarsonder ons nie meer kan klaarkom nie. Daarom dan ook dat die kuberveiligheidskenner, Rianette Leibowitz, reeds in 2021 in ’n reeks video’s op Netwerk 24 se LeerSaam-platform, gesê het dat die internet per se nie ’n slegte plek is nie en dat sosiale media talle geleenthede bied, MAAR dat dit elke ouer se verantwoordelikheid is om toe te sien dat ons kinders bewus is van die risiko’s en aanlyn veilig gehou word.

Aanlyn is hier om te bly, goed of sleg. Moenie jouself flous en dink jy kan jou kind weghou van die internet nie of hulle straf deur hulle toestelle weg te neem nie. Ja, daar moet grense en reels in plek wees, maar die onderrigmetodes het sodanig verander dat internetgebruik onafwendbaar is. Dit is ook aanlyn waar ons kinders met ander kontak maak (“connect”) – en dit is hierdie “connectedness” wat hulle laat tiek. Ongelukkig is dit ook hier waar hulle blootgestel word aan die gevare en kuberboeliery.

‘n Paar navorsingsfeite. Die maatskappy Digimune het in 2021 as deel van ’n navorsingsprojek vrae oor aanlynveiligheid aan 200 ouers gestuur. Die resultate van die toetsgroep was onrusbarend: 51,5% van kinders was al slagoffers van kuberboeliery – dit is meer as een uit elke twee kinders in die toetsgroep. 54% van die kinders het al toegang tot onvanpaste inhoud op digitale platforms verkry. 43,5% van die kinders (dit is twee uit elke vyf kinders) het al persoonlike inligting op die internet gedeel. 36,5% van die kinders was al slagoffers van aanlyn vernedering of wraakpornografie. 35% van die kinders is al deur aanlyn bekruipers geteiken.

Blootstelling sluit kuberboeliery in. Maak seker jy weet wat dit is en wees bedag daarop. Dit is daarom belangrik om ’n goeie verhouding met jou kind te hê sodat hulle die vrymoedigheid sal hê om hulle bekommernisse met jou te deel, veral as jy nie bewus is van wat op jou kind se sosiale mediaplatforms gebeur nie. Kuberboeliery sluit aanlyn-vernedering en negatiewe opmerkings in, en daar word dikwels foto’s en video’s geplaas waar die slagoffer geteiken word.

Wat dalk vir jou as volwassene nie “so erg” lyk nie, is dikwels nie die geval vir ’n jong mens nie en vir so ’n kind voel dit asof sy hele wêreld inmekaartuimel – met soms ernstige gevolge. Maak dus seker jou kind weet dat boeliery NOOIT aanvaarbaar is nie; hy daarteen MAG en MOET opstaan; hy nie op kwetsende boodskappe moet reageer nie; hy ander wat geboelie word, moet ondersteun; en hy daaroor moet praat.

Monitor jou kind se aanlyn aktiwiteit. Gaan dus hul privaatheidinstellings na. Beklemtoon die belangrikheid van internetveiligheid. Moedig jou kind aan om te dink wat die gevolge van hulle woorde en/of optrede op ander kan hê. Beperk tegnologiegebruik. Stel die voorbeeld en handhaaf goeie digitale gewoontes. Leer hulle om nie alles op sosiale media vir soetkoek op te eet nie. Dring aan op digitaalvrye aandetes.

Toestelle word weggesit en daar word rondom die etenstafel gesels. Moedig persoonlike kommunikasie aan. Praat met jou kind oor empatie. Ongelukkig is die uitbuiting van ons tieners en kinders die harde realiteit. Seksueel eksplisiete foto’s of boodskappe word digitaal gestuur. Dit hou ook verband met kinderpornografie, kindermishandeling, menshandel, “sexual grooming” (seksuele gereedmaking) en afpersing. Nog ‘n rede hoekom die verhouding met jou kind oop en eerlik moet wees – wees kuberslim.

Bg. is ‘n basiese opsomming van die artikel op Afrikaans.com. Daar is nog baie belangrike besonderhede en wenke oor hierdie onderwerp waarvan ouers, en hul kinders moet kennis neem. Gaan gerus soontoe om daarvan kennis te neem. Dis beslis die moeite werd.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button