Is die VSA op pad na ‘n burgeroorlog?
"Namate die Amerikaanse verkiesing nader kom, word dit alhoe duideliker hoe verdeeld die land op die oomblik is, en alles dui daarop dat dit erger gaan word op die pad na November."
Namate die Amerikaanse verkiesing nader kom, word dit alhoe duideliker hoe verdeeld die land op die oomblik is, en alles dui daarop dat dit erger gaan word op die pad na November. Wanneer ‘n mens kennis neem van berigte en menings oor die Amerikaanse inligtingspektrum, in die sg. Hoofstroommedia, asook die groot verskeidenheid inligting- en propagandabronne van die sosiale media, is dit duidelik die risiko van politieke geweld word stelselmatig groter. Waarskuwings hieroor word gereeld geuiter oor die hele mediaspektrum.
Oud-president Donald Trump verklaar bv. gereeld op sy politieke saamtrekke dat daar ‘totale chaos sal wees’ indien die vele regsaanklagte teen hom veroorsaak dat hy die verkiesing verloor. Toe die Amerikaanse Hooggeregshof in Januarie beslis het die Biden-administrasie kan federale beamptes op die grens met Meksiko toestemming gee om doringdraad wat deur die regering van die staat Texas aangebring is, verwyder, het van die staat se politici verklaar dit is vergelykbaar met ‘n burgeroorlogverklaring. Die Department van Tuislandveiligheid het reeds gewaarsku dat die ‘verkiesingsiklus’ van 2024 ernstige geweld kan ontketen.
TV-kanale en koerante wys daarop ‘n goeie samevatting van wat aan die gebeur is, is te vinde in die boek ‘God, Guns and Sedition’ van twee professore verbonde aan die Universiteit van Georgetown, Bruce Hoffman en Jacob Warner. Hulle is albei kenners van teen-terrorisme en tuislandveiligheid, en hul menings is uiters insiggewend. Professor Hoffman wys daarop ‘n bekende politieke wetenskaplike Barbara F. Walter skryf in haar boek ‘How civil wars start, and how to stop them’ dat Amerika nader aan ‘n burgeroorlog is as wat enigiemand bereid is om te erken.
Die redes daarvoor is ‘n toksiese mengsel van politieke ekstremisme en polarisasie, sosiale en kulturele ‘stamgroepe’, die geloof van baie mense in samesweringsteorieë, die vrye beskikbaarheid van vuurwapens en goedbewapende militias, en die afname van vertroue in die regeringstelsel en die liberale, Westerse demokratiese staat. ‘n Groot faktor is wat sy bestempel as die ‘apokaliptiese geloof’ dat die moderne samelewing onredbaar is, so gou as moontlik beëindig en met ‘n uwe orde vervang moet word, ook bekend as ‘accelerationism’.
Professor Ware verklaar hierdie ‘accelerationism’ word gepromoveer en aangehang deur ‘n spektrum van wit nasionaliste en rassiste, anti-semitiese elemente en anti-regeringsgroepe wat mense emosioneel oproep tot ‘n rewolusie. Hulle glo onwrikbaar daaraan die moderne Westerse, liberale wêreld is so korrup en onbekwaam dat dit vernietig moet word sodat ‘n nuwe gemeenskap en manier van regering geskep kan word.
Hierdie mense glo die Weste is aan die vooraand van ineenstorting, daarom is gewelddadige optrede nodig om demokrasie oor die afgrond na vergetelheid te stoot. Slegs wanneer dit gebeur, kan ‘n Wit-gedomineerde gemeenskap en nuwe orde ontstaan. Die proses kan aangehelp word deur gewelddadige aanvalle op rasse-minderhede, Jode, liberaliste, buitelandse agente en mags-elites, wat ‘n rampspoedige ineenstorting van die huidige orde sal meebring. Slegs dan kan ‘n Wit-gedomineerde gemeenskap en nuwe orde ontstaan, en indien nodig, ‘n tweede burgeroorlog.
Twee gewese werknemers van die VSA se Nasionale Veiligheidsraad met ‘n spesialiskennis van sektariese konflikte in Noord-Ierland en die Midde-Ooste, Steven Simon en Jonathan Stevenson, meen ‘n burgeroorlog kan baie maklik in die VSA uitbreek. Hulle sê dit lyk asof die land nou in ‘n staat van ‘onstabiele ewewig’ is, wat die risiko van geweld en chaos verhoog.
Die neerdrukkendste mening is egter in 2022 uitgespreek deur die Kanadese joernalis Stephen Marche in sy boek ‘The Next Civil War: Dispatches from the American Future’. Hy meen ‘n nuwe Amerikaanse burgeroorlog is onafwendbaar. ‘Die Verenigde State van Amerika nader sy einde’, verklaar hy, ‘die enigste onsekerheid is hoe dit gaan gebeur’. Dit het gedaal tot die soort sektariese konflik wat normaalweg in arm lande met ‘n geskiedenis van geweld aangetref word, nie in een van die die wêreld se gevestigde demokrasieë met die grootste ekonomie nie. In 2021 het die Universiteit van Maryland se Sentrum vir Demokrasie en die Washington Post in ‘n opname bevind dat amper ‘n kwart van die Demokrate en 40% Republikeine geglo het die gebruik van geweld teen die regering is ‘op ‘n manier geregverdig’.
‘n Opname vroeër vanjaar deur die Post en dieselfde sentrum toon Republikeine het meer simpatie met die mense wat die Kongresgebou in Washington in op 6 Januarie 2021 bestorm en verwoes het, en is meer geneig om Donald Trump as onskuldig daaraan te beskou. Trump het reeds verklaar indien hy weer aan die bewind kom, sal hy die ‘gyselaars in aanhouding’, die mense wat reeds tronk toe is vir hulle aandeel aan die Kongresgebou-chaos, vrylaat. ‘n Stelling wat polarisasie vererger het.
‘n Belangrike faktor is dat die meeste vuurwapens in private besit in die wêreld in Amerikaanse hande is. Amerika se mense verteenwoordig 4% van die aarde se bevolking, maar hulle besit 40% van die planeet se private vuurwapens. ‘n Navorsingsinstituut in Switserland het geraam daar is 393-miljoen vuurwapens in private Amerikaanse hande – meer as een per persoon.
Op die Amerikaanse TV-nuusdienste en top-koerante en andere is daar meer inligting oor hierdie onderwerp wat die uwe onder oë gehad het, diegene wat belangstel. Ontstellend. Die gedagte het onwillekeurig by my opgekom: En ons dink óns het probleme.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
