As een van derduisende liefhebbers van die Nasionale Krugerwildtuin, het die uwe verlede naweek kennis geneem van mediaberigte oor die omvang van wildstropery in hierdie ikoniese reservaat. Dit was ontstellend , en ‘n bietjie navorsing op die internet het die beklemming om my hart laat vererger.
Tydens ‘n onlangse besoek was dit duidelik dat die Wildtuin nog goed bestuur word, hoewel dit ooglopend is dat geld nie geredelik beskikbaar is vir behoorlike opknappingswerk en instandhouding nie. Ablusieblokke is nog steeds skoon en netjies, en alles werk, maar dis duidelik bv. nuwe krane, waterpype en ander toerusting se normale vervangtyd is lankal verby. Een van die redes vir die moeilike finansiële situasie is die miljoene wat die Parkeraad moet bestee aan die bekamping van stropery. Joernaliste is hieroor ingelig tydens ‘n spesiale sessie verlede week.
Een van die mededelings was dat meer as 80 aasvoëls gevrek het nadat hulle van die vleis van ‘n dooie buffel gevreet het. Die buffel is deur stropers vergiftig nadat dit in ‘n strik gevang is. Die stropers het stukke vleis van die buffel afgesny, en ‘Twostep’- gif oor die karkas gestrooi, om leeus te vergiftig. ‘n Senior wildbewaarder, Joe Nkuna, het die joernaliste meegedeel hy kon sy oë nie glo toe hy op die toneel afkom nie. Die dooie aasvoëls het oral rondgelê. “Dit was verskriklik,” het hy verklaar. Dieselfde vergiftigde buffel het die dood gekos van ‘n swartrugjakkals, twee arende en ‘n hiëna.
Twee senior wildbewaarders, Don English en Richard Sowry, het die joernaliste ingelig die Parkeraad het in 2023 R250-miljoen bestee om wildstropery te beveg omdat dit so ‘n groot bedreiging vir die wildtuin is. Dit is ‘n daaglikse probleem, en bedreig die reservaat se voortbestaan weens ernstige en rampspoedige ekonomiese, maatskaplike en ekologiese gevolge. Ook as ‘n bron van miljoene toerisme-rande jaarliks vir die nasionale fiskus. Sowry het dit beklemtoon dat die werknemers van die Wildtuin regstreeks geraak sal word. “Hulle werk hier en gaan koop hulle noodsaaklikhede buite by winkelsentrums, en sonder die Krugerwildtuin sal daardie sentrums nie kan bestaan nie.”
Renosters is nog steeds die gewildste teiken vir stropers. In 2021 is 209 renosters vir hul horings vankant gemaak, vergeleke by 247 in 2020. Benewens die aanslag op die renosters, neem wildstropery deur middel van strikke, toe. In Oktober verlede jaar het veld- en ere-veldwagters verklaar hulle het meer as 3 000 strikke wat vir diere gestel is, verwyder. Statistieke toon verlede jaar is meer as 7 000 strikke verwyder, teenoor 4 000 in 2021.
Die ander groot teiken vir stropers in die wildtuin is leeus, wat eeuelank reeds die bron is van muti vir rituele ivm. liggaamskrag, genesing en bose geeste, wat deur tradisionele genesers voorgeskryf word. By die Silwerskermfees verlede jaar, het die vervaardiger van die dokumentêre program Besmet, Pierre Steyn, verduidelik hoe ernstig die stropery van leeus, veral in die noorde van die Krugerwildtuin, is. Hy het verwys na twee groot mutimarkte in Johannesburg waar ‘n mens letterlik enigiets kan kry van ‘n leeustert tot ‘n seekoeitand, selfs die kopbeen van ‘n hiëna en ‘n walvistand.
‘n Tradisionele geneser het aan hom verduidelik leeuvet wat om mense se enkels gesmeer word, beskerm hulle glo teen bose geeste. Ander dele van ‘n leeu soos die tande, kloue en vel, het verskillende ander genesende kragte. Steyn het gesê hoewel dit ‘n eeu-oue tradisie is om leeus as tradisionele medisyne te gebruik, is die wreedheid waarmee hierdie diere gedood word, en die toenemende frekwensie daarvan, ‘n ernstige bron van kommer onder omgewingsbewuste mense en organisasies.
In die Krugerwildtuin word leeus wreed vergiftig of in strikke gevang. In albei gevalle ly die diere verskriklik vir ure lank voordat hulle vrek. Dan kom die stropers met hul pangas, kap die kop, pote en stert af, en sny die dier oop om by die vet uit te kom. Een van die gewildste manière om leeus te dood is om ‘n vergiftigde donkie of bok in die veld te los. Die leeu eet van hierdie vergiftigde vleis, ly ure lank, braak en strompel rond met die verskriklikste pyn totdat hy vrek.
Hiënas en aasvoëls vreet aan die karkasse, en vrek ook. Steyn sê die meeste stropers is plaaslike mense, maar daar is stropers uit Zimbabwe en Mosambiek wat op donkies inry. Hulle maak dan die donkies dood, gooi gif oor hulle en wag vir die leeus. Van die stropers bly weke lank in die bos en slaan dan toe waar daar nie bewaarders is nie. Daar is net sowat 22 000 leeus in Afrika in die veld oor. Enkele jare gelede was daar 100 000.
Ondersoeke deur die ouditeursfirma KPMG en die polisie het onlangs onthul dat misdadigers buite die wildtuin geld aan minstens 50 werknemers van Sanparke betaal het vir hulp met die stropery. Teenmaatreëls het welslae behaal, en in 2022 is twee bewaarders en 11 medepligtiges ivm. stropery, korrupsie en geldwassery in hegtenis geneem. Dis egter ‘n druppel in die emmer. Meer as 2.9-miljoen mense woon binne 50 km. van die Krugerwildtuin se wesgrens, waar die werkloosheidskoers meer as 45% is. Voeg hierby polisiekorrupsie, en die erns van die probleem word duideliker.
Bg. inligting is ontstellend, om die minste te sê. Asof ons nie genoeg ander probleme in hierdie land het nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
