South Coast Fever

Almal, gelowiges en ongelowiges, is van God afhanklik

Wanneer mens met waardering oor ’n verhouding of ’n produk getuig, dan sê jy soms dat dit die toets van die tyd deurstaan het.

Wanneer mens met waardering oor ’n verhouding of ’n produk getuig, dan sê jy soms dat dit die toets van die tyd deurstaan het. Met ander woorde, jy kan peil trek op daardie produk of persoon. Dit is nie net ’n mooiweersvriend nie. Dit is nie een van daardie ‘fly by night’ maatskappye nie. Jy het ’n gewaarborgde produk. Ongelukkig is alles in die lewe nie altyd so vas en seker nie. Die Psalmis in Psalm 136 getuig van sy ervaring met God as dat Hy die toets van die tyd deurstaan het. “Prys die Here, want Hy is goed. Vir ewig duur Sy troue liefde.”

Dis ’n hartsbelydenis. Hy noem voorbeelde waar Israel op die Here kon peil trek in die verlede. Wat die Psalm egter laat uitstaan is die fokus op die hêsêd van die Here wat 26 keer herhaal word – sy troue liefde. Só word by die geloofsgemeenskap die hart van die Godsbegrip ingeskerp, dat God liefde is, nie net ’n liefde wat ’n reaksie is op hulle gehoorsaamheid nie, maar ’n liefde wat ten spyte van omstandighede voortgaan en hou.

Soms help dit om van tyd tot tyd jou lewe in oënskou te neem. Oral waar daar oorgange, krisisse of verandering in jou lewe is, kan jy jouself afvra hoe die Here sekere goed in jou lewe bevestig het. Jy kan ook vra hoe die ontwrigting van jou lewe, jou verhouding met God geraak het.

Die Psalmis bely dat God se troue liefde die toets van die tyd deurstaan. Dit verander nie. Dit bly altyd dieselfde. Dit bly waar regdeur die geslagte, en regdeur die geskiedenis. ’n Mens kan altyd op God se liefde staatmaak. God is immers liefde, soos die NT in Jesus Christus later so helder sou bely (1 Joh. 4:8).

Hy onderhou die skepping. Hy bevry mense uit geknelde situasies. Hy gee kos aan alles wat leef. Almal, gelowiges en ongelowiges is van Sy guns afhanklik – want vir ewig duur Sy troue liefde. Die afgelope Paasfees het ons God se trou ervaar in hoë Hy Sy Seun voorsien het as losprys vir ons sonde. Waarlik, aan Sy troue liefde is daar geen einde nie!

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button