Al die verskillende emosies moenie weggesteek word nie
In Psalm 137 sien ons hoe die Psalmis sy diepste emosies voor God uitstort in gebed. Hy dink aan die skade wat die Edomiete Jerusalem aangedoen het.
Daar is baie situasies en traumatiese voorvalle in ons land vandag wat verwonding by mense veroorsaak. Dit kan aanranding, werksverlies, onvoorsiene gebeure, siekte, blootstelling aan ander se seer en pyn wees wat bydra tot die verwonding.
Gevoelens soos skok, woede, ontkenning, depressie, hulpeloosheid, onderhandeling gaan dikwels met hierdie ontstellende gebeure gepaard. Dit is deel van die manier waarop mense ontstellende gebeure hanteer.
Om uitdrukking te gee aan mens se emosies, is deel daarvan. Ons lees in Johannes 11 dat selfs Jesus se gemoed vol geskiet het en dat hy aangedaan was toe hy by die afgestorwe Lasarus se familie aangekom het en die hele situasie Hom intens geraak het.
In Psalm 137 sien ons hoe die Psalmis sy diepste emosies voor God uitstort in gebed. Hy dink aan die skade wat die Edomiete Jerusalem aangedoen het. Hy dink aan Babel wat God se eer aangetas het toe hulle wreed teenoor die inwoners van Jerusalem opgetree het en baie om die lewe gebring het. Dit het geweldige seer veroorsaak.
Die Psalmis se gebed klink vir die moderne gelowige vreemd. Dis ‘n gebed om vergelding. “Gelukkig is die een wat jou vir jou dade vergeld. Gelukkig is die een wat jou kinders gryp en verpletter teen ‘n rotswand.” (Psalm 137:8 en 9) Die Psalm weerspieël iets van die verskeurdheid waarin gelowiges hulself so maklik kan bevind.
Die belewenis van liefde vir en smart oor; van die ervaring van God se teenwoordigheid, maar ook van sy afwesigheid; van die vloek oor jouself as – en die vloek oor ander – dis alles deel van menswees.
Hierdie verskillende emosies moenie weggesteek word nie. Gelowiges mag hul verwonding voor God verwoord. Aan die kruis op Golgota, blootgestel aan intense smart, het Jesus Christus Sy nood verwoord in daardie bekende woorde: “ My God, my God, waarom het U my verlaat?” Psalm 137 leer ons dat ons met die Here kan praat as ons stukkend is. Ons kan vir Hom sê hoe ons voel.
Ons kan ons verwarde en onsamehangende emosies voor Hom blootlê. Ons hoef nie ‘n netjies voorbereide gesprek met Hom te voer nie. Ons kan ons stukkende hart en rou emosies voor Hom neerlê. Hy wil en sal na jou luister.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
