South Coast Fever

Wouter se Watergat

Die uitwerking van verskriklike vloedskade in Margate sal nog lank met ons wees.

Verlede Saterdag en Sondag toe die groot reën ons tref, het Oom Pottie een van sy geliefkoosde uitdrukkings gebruik, naamlik ‘HKGK’.
Dit was in daardie stadium inderdaad duidelik dat moeilikheid op pad was, en later Sondagaand toe daar water by ons voordeur begin inloop, wat nooit voorheen gebeur het nie, het ons besef Pottie se voorspelling word bewaarheid.

Kort hierna bel vroulief en vertel ons ‘n vriendin van haar in Margate, wie se man ‘n duikklopbesigheid het, moes inderhaas na die perseel om te probeer red wat te redde is.

Daar aangekom, was alles in die werkswinkel onder water, met die watervlak wat vinnig styg.

‘n Halfuur later het haar man amper verdrink tydens sy reddingspogings, en is 12 motors en toerusting meegesleur saam met ‘n stroom water wie weet waarheen.

Toe ons Maandag met haar praat, was dit net moedeloosheid want hul onderneming was daarmee heen, saam met klante se motors, en hulle het nie voldoende versekering om die skade te dek nie. Erg.

Ons het intussen verneem wat met hierdie egpaar gebeur het, was taamlik algemeen in seker die grootste natuurramp wat ons kus die afgelope 100 jaar getref het.

Pottie en ek het, na die ergste verby was, en ons seker gemaak het die skade by ons is nie te erg nie – bloot ligte waterskade – Margate toe gery, wat nogal ‘n moeilike proses was.

Ons kon nie glo wat ons sien nie.

Veral in die omgewing van die hoofstrand, by die Wimpy, en die ingang van die dorp. Surrealisties.

Ons betuig ons meegevoel met almal wat skade opgedoen het, familielede van diegene wat hul lewens verloor het, en sake-ondernemings wat van voor af moet begin.

Besoekers wat hier by ons kuier, het almal stories oor die verskriklike omvang van die skade. Kom ons hoop Stephen Herbst van Tidy Towns was reg toe hy verklaar het Margate en die kus sal weer opstaan.

Die groot vraag is nou hoeveel die plaaslike munisipaliteite en die provinsiale/nasionale regering tot die herstelpoging kan bydra.

Die skade aan die infrastuktuur is enorm, veral aan die rioolstelsel, en dringende optrede is nodig. Ook baie, baie geld. Sterkte aan almal.

Ons sportgesprekke was baie minder as tydens ander weke, maar almal was dit eens ons Sharks begin nou volgens hul volle potensiaal speel.

Die enkele Blou Bul-ondersteuners wat hier was, was kwaad vir Jake White omdat hy ‘n sg. B-span oorsee gestuur en liederlik verloor het.

Die Engelse rugbybase ook.

Sal interessant wees om te sien wat die uiteinde gaan wees.

Die ander sport-onderwerp was die fantastiese prestasies van Heinrich Klaasen in die Indiese professionele krieketliga. Hy is nou een van die beste T20-kolwers ter wêreld.

Ons afsluitingsgrappie het ek lanklaas gehoor, maar lank genoeg gelede om hier te herhaal: ‘n Kaapse vrugteverkoper loop in Adderleystraat by ‘n Gautenger se motor verby.

Hy loer by die motor in en adverteer: ‘Perskes, perskes, lekka perskes. Net vyf rand vir die laanie.’

Die ou in die motor is beïndruk met die mooi, pienk vrugte en vra: ‘Is hulle soet?’

Die vrugteverkoper antwoord: ‘Hoe dan meneer, kyk hoe stil sit hulle!’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button