South Coast Fever

Wouter se Watergat

Wat gaan met ons gebeur indien die ANC en EFF 'n koalisie vorm?

Hoe nader die verkiesing kom, hoe meer gesprekke word hier in die Watergat oor die moontlike ujtslag daarvan gevoer. Dis ook baie duidelik hoe meer mense deelneem, hoe meer menings is daar.

Daar is diegene wat in beginsel gekant is teen die ANC en niks wil weet van enige koalisie van diè party met enige van die ander nie. Die ANC mag nooit weer regeer nie, is hul standpunt.
Dan is daar ander wat meen indien die ANC nie ‘n volstrekte meerderheid kry nie, iewers in die veertigs, is dit ‘n uitgemaakte saak dat hy óf met die EFF óf met die nuutgestigde uMkhonto weSizwe-party van Jacob Zuma ‘n koalisie sal vorm.

Sommiges meen die ANC moet net-net ‘n meerderheid stemme kry sodat hy dan met ‘n sterk opposisie kan regeer, en die moontlikheid van die vorige genoemde gevaarlike koalisies dan uitgeskakel word.

Daar was ook diegene wat meen die DA gaan sy meerderheid in Wes-Kaapland verloor omdat daar soveel kleiner opposisiepartye, soos die Patriotic Alliance, is wat sy stemme gaan wegrokkel. Hoofsaaklik omdat sy topbestuur te blank is.

Maandagaand het ‘n klompie van ons gesit en kyk na die program ‘In Gesprek’ van Lourensa Eckhard op Kyknet waar die verkiesing bespreek en interessante menings gelug is deur kommentators Theo Venter en Prince Mashele.

Veral Mashele het, waarskynlik weens sy kontakte binne die ANC en ander partye, onomwonde verklaar dat die ANC besig is om te disintegreer en later sal verder sal verbrokkel in die pro-Ramaphosa en die pro-Mashatile groepe.

Afhangend van watter groep die oorhand het tydens die verkiesing, sal die Ramaphosa-groep geneë wees to ‘n koalisie met die DA, en die Mashatile-faksie met die EFF of met die MK-party.

Mashile het gesê Ramaphosa en Mashatile kan mekaar nie verdra nie, en Jacob Zuma verpes die president omdat hy toegelaat het dat hy tronk toe gaan, faktore wat ‘n rol vorentoe gaan speel.

Hulle meen die EFF se stempersentasie sal in die omgewing van 12% wees, die MKA-party gaan in KwaZulu-Natal baie goed vaar en stemme van sowel die EFF as die ANC wegrokkel.

Mashile reken die ANC se stempersentasie gaan minder as 40% wees.

Venter het nie daarmee saamgestem nie, en hy verwag dit sal in die laat veertigs wees.

Albei het gemeen die DA sal nie groei nie, en Mashele het verwys na die min anderskleuriges in die party se heel topstruktuur.

Met Helen Zille wat oor John Steenhuisen se skouer loer, soos die geval was met Mmusi Mayimane.

Interessante maar ook ontstellende moontlikhede. Ons moet duim vashou die regte dinge gebeur op 29 Mei. Eish.

Ons loopstorie:

Kallie het met Mike gepraat omdat hy dikwels onsensitief is en nie mense se gevoelens in ag neem nie.

Mike beloof om te verbeter.

Kort daarna gaan kuier Mike by ‘n meisie.

‘n Uur later is hy terug by Kallie. “Waarom so vroeg terug?” wil Kallie weet. “Was jy weer onsensitief en toe jaag sy jou weg?”

“Nee,” antwoord Mike. “Ek was juis sensitief vir haar gevoelens. Ons het net ‘n rukkie gesit, toe sy begin van die ligte afskakel. Ek besef toe dis tyd vir my om te loop.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button