South Coast Fever

Wouter se Watergat

"Jacob Zuma is die politieke rampokker in Suid-Afrika."

Jacob Zuma was weer die onderwerp van bespreking onder ons besoekers die afgelope paar dae, en dit was ooglopend as daar nou een politikus is vir wie hulle geen ooghare het nie, is dit onse Jacob. Die vaandeldraer van die staatskapers en Stalingradvegter in die howe.

‘n Man wat ekstreme emosies wakker maak, en daar was geen goeie woord oor hom gespreek nie. Van die dinge wat gesê is, sal ek liewer nie hier herhaal nie, behalwe dat hy persona non grata is, en beskou word as ‘n gevaar vir Suid-Afrika.

Ek deel hierdie sentiment, en is bekommerd oor die betekenisvolle steun wat hy onder veral die Zoeloebevolking hier in KwaZulu-Natal het. Hoe is dit moontlik dat sy ondersteuners kan aanvoer dat hy niks verkeerd gedoen het nie? Is hulle blind en doof? Oningelig?

Volg hulle hom blindelings omdat hy die stamsnare tokkel en ‘n Zoeloesimbool is?

Oom Pottie reken dis ‘n kombinasie van al hierdie faktore, en sê hy sien groot ooreenkomste met Donald Trump in die Amerikaanse politiek. Toe hy hierdie sentiment teenoor ‘n groepie besoekers uitspreek, is hy onmiddellik deur twee van hulle aangevat. “Jy weet nie waarvan jy praat nie,” het die een hom toegesnou.

Ons het terstond die onderwerp verander om ‘n konfrontasie te vermy. Pottie kan glad nie verstaan waarom welmenende Suid-Afrikaners die Oranjeman, soos hy hom noem, slaafs ondersteun nie. “Die man is ‘n narsistiese, psigopatiese liegfabriek”. Aitsa.

Een van die onderwerpe van die sportpraatjies was die volgehoue goeie vertonings van die Sharks, die Bulls en die Stormers. Veral die Sharks. Lyk my die masjien begin op al sy silinders vuur. Lekker om te sien.

Oom Pottie het weereens in die doldrums verval toe sy geliefde Lions na ‘n fantastiese vertoning die vorige week, ‘n rugbyles deur die verdedigende VRK-kampioene, Munster geleer is. Op en af. Op en af. Ai tog.

Ons loopstorie kom uit Pottie se argief:
Ma en twee kleintjies (3 en 5) in die kar. Die kinders is onhebbelik en sy raas en raas, maar hulle wil nie luister nie, newwermaaind stilsit.

Sy verloor haar humeur en trek van die pad af, wiks die twee goed, sit hulle terug in die kar en sê: “Nou wil ek nie weer ‘n woord hoor nie.”

Na so paar minute sê die seuntjie: “Mamma ek wil iets sê.”

Sy kyk kwaai na hom: “Net vinnig, want jy is veronderstel om stil te bly.”

“Ek wil net vir Mamma sê, Liewe Jesus gaan hiervan hoor!”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button