South Coast Fever

Wouter se Watergat

Clermont het 'n nederlaag uit die kake van 'n oorwinning gegryp, maar die Sharks kla nie...

Vandeesweek gesels ons net sport om weg te kom van die politiek en ander depressiewe onderwerpe. Die groot besprekingspunt was die Sharks se naelskraapse oorwinning in Londen teen Clermont Auvergne in die halfeindronde van die Rugby-uitdaagreeks.

Ons het met ons harte in ons skoene gesit en kyk hoe Clermont die Sharks se skrums (Ox Nche het ‘n nagmerrieperiode gehad) en lynstane oorheers, en hoe Clermont se agterspelers hul teenstanders totaal onbeholpe laat lyk het. Hul verdedigingspatrone was pateties, en Clermont se drieë het my laat dink aan die Engelse uitdrukking ‘like taking candy from a kid’.

Die losskakel Siya Masuku se ses strafskoppe het die Sharks met rustyd wel 18 punte besorg, 10 punte agter Clermont, maar ons het gesit en wag op ‘n groot slagting in die tweede helfte. Watookal John Plumtree met rustyd aan sy spelers gesê het, het die gewensde ujtwerking gehad.

Die Springbok-voorspelers, veral Eben Etsebeth, wat reusewerk gedoen het, het wakker geskrik en die agterspelers het skielik hul ritme en verdedigingspatrone gevind. ‘n Geelkaart aan ‘n Clermontspeler het gehelp, (hoewel dieselfde met Aphelele Fassi gebeur het), drieë deur Vincent Koch en Makazole Mapimpi het die gaping laat krimp, en ‘n skitterende doelskop deur Masuku het die Sharks kort voor die einde met 32-31 laat voorloop en naelbyt-oomblikke het gevolg.

Wat ‘n verligting, maar ons het almal besef die beste span het nie die wedstryd gewen nie. Clermont het dit uit hul hande laat glip met onder meer ‘n verbroude strafskop feitlik voor die pale.

Die Sharks speel nou op 24 Mei in Londen in die eindstryd teen Cloucester. Indien hulle wen, sal hulle aanstaande seisoen aan die Uitdaagkampioenskap deelneem.

Ek sal nie verbaas wees indien Rassie-hulle vir Masuku, die speler van die wedstryd naderroep vir insluiting in die aspirant-Springbokgroep nie. Hy is op die oomblik strate beter as Curwin Bosch en Boeta Chamberlain, ook met sy algemene spel.

Die ander sportonderwerp was die Indiese professionele liga. Die meerderheidsmening was dat dit in ‘n klug begin ontaard in die sin dat daar geen hulp vir die boulers op die dooie kolfblaaie is nie, en dat dit nou ‘n toernooi vir kolwers is wat met mekaar meeding om die meeste sesse te slaan.

Lekker om na te kyk, maar dit word later afgesaag omdat daar twee maande se wedstryde daagliks gespeel word, en dit kan nie ‘n goeie invloed hê op die kolftegniek van spelers wat hierna na ander formate, soos toetskrieket, terugkeer nie.

Ek wonder terloops hoe hou die buitelandse spelers hulself tussen wedstryde oral in Indië besig buiten met hul netoefeninge. Die fanatiese toeskouers in die vol stadions is ‘n gesig om te aanskou.

Ons loopstorie: ‘n Mamma met ‘n derde enetjie op pad se driejarige kom ingeloop toe sy onderweg stort toe is.
“Mamma, jy is besig om vet te word,” sê die dogtertjie, ondiplomaties.
“Dis reg my skat, maar jy moet onthou mamma het ‘n babatjie wat in my maag groei.”
“Ek weet,” sê die kind ”maar wat groei in mamma se boude?”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button