Rugby-oorlog teen die Iere – ons sien uit na ‘n riller-wedstryd
Wouter se Watergat by Wouter Willemse.
Daar was die afgelope tyd twee groot besprekingspunte in die Watergat.
Die Regering van Nasionale Eenheid en Saterdag se rugby-toetswedstryd teen Ierland.
Oor die RNE was die oorwoë mening kortliks: Baie bemoedigend, hoewel daar op minder ANC-verteenwoordiging onder die ministers gehoop is.
Die algemene gevoel was daar is nou hoop vir Suid-Afrika, en die enigste vraag is hoe lank die eenheid gaan hou. Persoonlik dink ek dit sal. Die alternatief is totale chaos.
Die ander besprekingspunt het alle gesprekke oorheers.
Saterdag se rugby. Suid-Afrika het Ierland nog nie sedert 2016 geklop nie, en die jongste nederlaag was tydens verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi.
Die telling van 13-8 was vir die Springbokke moeilik om te verwerk, al was hul reeds seker van ‘n plek in die halfeindronde.
Die Bokke is op die oomblik die voorste span op die wêreld-ranglys, en die formidabele Iere bly die span wat hulle graag wil verslaan.
En oortuigend verslaan, want volgens berigte dink die Iere nog steeds hulle is die beste span ter wêreld, en verkondig dit oral.
Sedert 2016 se wedstryde in Suid-Afrika, het hulle net drie keer teen mekaar gespeel, en Ierland het elke keer gewen, twee keer in Dublin en verlede jaar in Parys.
Ierland besef hulle kan eers oor meer as drie jaar die volgende Wêreldbekerreeks wen, maar hulle sal Saterdag alles uithaal om die Bokke op Loftus te klop.
Oom Pottie sê hy verwag hulle gaan van meet af aan maak soos die Clint Eastwood-cowboys: Bars die kroeg binne met albei Colts wat lood spoeg. Die Springbokke het egter 14 van hul afgelope 16 toetswedstryde gewen, en die Iere gaan harde bene kou, veral op Loftus.
Hoe dit ookal sy, dit gaan ‘n reuse-wedstryd wees.
Siya Kolisi is weer die kaptein, maar die res van die span was nog nie bekend toe hierdie rubriek geskryf is nie.
Diegene wat die wedstryd hier wil om kyk, beter voor middagete kom om plek te kry. Die dag se spesiale ete is vroulief se kerrie-skaapafval en klein aartappeltjies. Plus ‘n bier. Net R75.
Ons loopstorie: ‘n Dokter keer terug uit ‘n laboratorium langs sy spreekkamer, waar ‘n pasiënt sit en wag op die uitslag van toetse.
Dokter: “Ek is bevrees jy het net 10 oor om te lewe.”
“Tien? 10? 10 wat?” vra die pasiënt, geskok.
Dokter: “..9… 8…”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
