South Coast Fever

Wouter se Watergat: Is Ugu hoegenaamd tot behoorlike diensneming in staat?

"Ons besoekers van Gauteng en die Vrystaat kan dit glad nie verstaan nie."

Ons kan voel die winter is in aantog, en hoewel die Suidkus nooit so koud word soos in die res van die land nie, is ons inwoners hier se metabolisme so gekalibreer dat dit vir ons baie koud is indien die temperatuur onder 15 grade daal, om nie eens te praat van ’n minimum van 10 nie. Ons besoekers van Gauteng en die Vrystaat kan dit glad nie verstaan nie.

Hulle kom hier ingeloop met kortmouhemde en dalk ’n ‘wind breaker’ terwyl ons langmouhemde en dik truie aan het. Nogmaals ’n bewys die mens se liggaam pas aan by die klimaat waaraan dit gewoond is.
Oom Pottie vertel in sy jong jare in die destydse Germiston het hulle per fiets skool toe gery, met net ’n dik trui en sonder handskoene of serp, wanneer die temperatuur tussen drie en vier grade was. Hoewel dit nie aangenaam was nie, het hulle nie kwaai koud gekry nie. Ekself onthou die dae van laerskoolrugby op Roodepoort, in die middel van die winter, kaalvoet, op ’n bruin, harde veld vol ryp. Voete het effens gepyn maar ons het gespeel.
Dis maar dieselfde situasie met hitte. Ons hanteer die humiditeit hier by die kus baie beter as die binnelanders wat baie gou kla dit veroorsaak groot ongemak. Ons gee natuurlik nie om nie, want dit help om veral ons bier-omset te vergroot.

Die groot klagtes vandeesweek het weereens gehandel oor die swak dienslewering. ’n Inwoner van Southport, Peter Wright, het ons Maandag meegedeel hulle was in daardie stadium meer as ’n week lank sonder water. Wanneer hulle by Ugu navraag doen, indien iemand die telefoon antwoord, is hy of sy onbeskof, of sit die telefoon in jou oor neer. Hy het al moed opgegee en het besluit om die kus te verlaat. Maar, vra hy heel tereg, wie gaan sy huis koop? En indien wel, teen watter prys? Verskeie ander ‘locals’ het dieselfde klagte gehad.

Ons loopstorie het aldus die Dreyers van Bloemfontein volgens oorlewering by Grey Kollege gebeur.
Op ’n Maandagoggend het die skoolhoof die eerste rugbyspan geprys en die skoolkomitee hartlik bedank. Op die verhoog staan daar twee kartondose met Bybels wat deur die Gideon-organisasie aan die skool geskenk is om vir kinders sonder Bybels, een te gee.
Twee van die Gideon-mense het spesiaal vir die geleentheid na die skool toe gekom. Hulle sit so half eenkant. Toe die hoof klaar is met sy aankondigings, kyk hy op na die kinders, swaai hy sy hand na die twee kartondose langs die Gideon-mense se kant toe en verklaar: “Julle wonder seker wat hierdie twee dose op die verhoog maak?”
Nodeloos om te sê, die volgende oomblik het chaos uitgebars. Die onderwysers het gerapporteer dat dit onmoontlik was om enigiets die moeite werd vir die res van die dag in die kinders se koppe te kry, aangesien hulle telkens uitgebars het van die lag.

Die arme twee Gideons het nie ’n woord kon inkry nie, en die twee kartondose met Bybels in is onuitgedeel na die hoof se kantoor verskuif.
Ons in die Watergat het self die hele dag lank gegiggel. Skoon van rugby vergeet.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button