South Coast Fever

Jaden se knipoog: Bloot onnutsig of swak sportmangees?

Vandeesweek was dit Jaden Hendrickse se knipoogkyk na Jack Crowley, die besoekende Munster se losskakel, onderwyl hy op sy rug gelê het, op die oog af met erge kramppyne in sy bene.

Ons beleef somtyds iets hier in die Watergat wat as ons oomblik van die week beskou kan word, en vandeesweek was dit Jaden Hendrickse se knipoogkyk na Jack Crowley, die besoekende Munster se losskakel, onderwyl hy op sy rug gelê het, op die oog af met erge kramppyne in sy bene. Toe ons dit heel aan die einde van die wedstryd teen Munster verlede Saterdag sien, het Oom Pottie en ek na mekaar gekyk en gedink dit was nogal oulik. Niks meer nie.

Ons het besef Hendrickse, een van die Sharks se skoppers in die skopstryd pale toe nadat die tellings gelykop was na 20 minute se ekstra speeltyd, het gelê waar Crowley sy tweede skop moes waarneem, maar niks daarin gelees nie. Crowley het hierna met sy skop geslaag, maar met lede van die Sharks se ondersteuningspersoneel, wat Hendrikse behandel het, betrokke geraak in ’n woordestryd waartydens hy hulle ‘f**k off!’ toegesnou het.

Soos ons almal weet, het Rory Scannel van Munster vroeër met sy tweede skop misluk, wat die Sharks tot die halfeindronde van die VRK laat deurdring het omdat hulle met al hul skoppe geslaag het. Nà die wedstryd het ’n storm van kritiek om Hendrickse se kop onder Munster-ondersteuners en spelers losgebars weens wat beskou is as sy swak sportmanskap. Toe eers het ons besef die kritiek was omdat hulle oortuig was Hendrikse het nie werklik krampe in sy bene ervaar nie en wou Crowley ontsenu deur vir hom te knipoog.

Hendrikse is op die sosiale media en in Ierse media verguis oor sy ‘skaamtelose swak sportmanskap’. Ons het dit hier in die Watergat bespreek, en hoewel die knipoog dalk onnutsig was, het videoskote duidelik getoon dat daar ’n yslike spierkramp in Hendrickse se linkerkuit was. Soos ook later deur Rassie Erasmus uitgewys, wat dit die besware as ongeldig afgemaak het. Vir seker met heelwat binnepret.

Ewenwel, Hendrikse het ons nie beïndruk met sy stadige spel en periodieke boog-aangeë om die skrum nie, maar hy kry tien-uit-tien vir sy knipoog. Hoewel die Sharks uiteindelik gewen het, is ons steeds bekommerd oor die span se aanvallende vermoë. Hulle het die wedstryd goed beheer, en hul voorspelers was uitstekend in die vaste spel, maar die middelste drie in die agterlyn lyk soms te stadig.

Indien die Sharks die Bulle Saterdag wil klop, sal hulle skerper, vinniger en vindingryker moet wees. So nie, eindig alles op Loftus. Met hul baie Springbokke en al. Terloops, van ons besoekers het opgemerk Siya Kolisi lyk nie na ’n gelukkige speler nie. Ook nie op sy beste nie.

Ons loopstorie kom uit Pottie se argief: Vier snydokters sit om ’n tafel en gesels. Nommer een sê hy opereer graag op boekhouers want hulle ingewande is almal genommer. Nommer twee opereer graag op elektrisiëns want hul organe is ‘colour coded’. Nommer drie sê dis maklik om op ’n biblioteekaresse te opereer, al hul organe is alfabeties gerangskik. Nommer vier hou vol die heel maklikste operasie is op ’n politikus, dis regtig kinderspeletjies. Hulle het geen ruggraat, geen brein en geen hart nie. Jy kan selfs hul kop en g*t omruil en niemand sal iets agterkom nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button