Donald Trump – lief hom of haat hom
In my loopbaan van amper 60 jaar in die joernalistiek het ek nog nooit kennis geneem van ’n politikus soos president Donald J. Trump nie. ’n Man wat sterk emosies opwek sowel by diegene wat hom beskou as ’n soort messias as die mense wat hom nie kan verdra nie. Dis nie net in Amerika
In my loopbaan van amper 60 jaar in die joernalistiek het ek nog nooit kennis geneem van ’n politikus soos president Donald J. Trump nie. ’n Man wat sterk emosies opwek sowel by diegene wat hom beskou as ’n soort messias as die mense wat hom nie kan verdra nie. Dis nie net in Amerika waar hierdie groot kloof tussen sy aanhangers en teenstanders bestaan nie, ook hier in Suid-Afrika loop die emosies hoog wanneer sy meriete, veral op Facebook, bespreek word. Kritiseer hom, en sy ondersteuners vertel jou baie gou jy is ’n liberalis wat sy mond van Trump moet afhou.
Die besluit om oor hom te skryf is dus nie ligtelik geneem nie, want ook hier aan die Suidkus het hy sy bewonderaars, en ek besef kritiek teen hom het sy risikos. Eenvoudig en sagkens gestel: Ek hou nie van die man nie. Nie omdat ek ’n liberalis is of ’n groot ondersteuner van die Demokratiese party is nie. Inteendeel. Van sy beleidsrigtings maak sin. En alles wat hy doen en sê is nie onaanvaarbaar nie. Ek kan my egter gladnie versoen met syp die soort mens wat hy is nie, veral nie sy selfgesentreerdheid, boeliegedrag, minagting van die waarheid, en belediging van mense nie. Wat ek in sy soveelste toespraak of nuuskonferensie verlede week gesien het, het my nogmaals geskok en oortuig om oor hom te skryf. Hy het Donderdag, op ’n snikhete dag in Iowa, langer as ’n uur gepraat. ’n Meer outoritêre vertoning is skaars moontlik.
Trump het begin deur met president Biden se manier van praat te spot, en hy het aangekondig hy gaan ’n UFC-stoeigeveg op die Withuis-grasperk aanbied as deel van die 250e verjaardagviering van Amerika. Hy het dit opgevolg met ’n anti-Semitiese opmerking oor bankiers, verklaar die Demokrate haat Amerika, en hy haat hulle netsoveel. Hierna het hy my nogal vermaak met ’n onsamehangende relaas oor waterstof-aangedrewe motors, waartydens hy die skare gewaarsku het oor die gevare daarvan ‘want wanneer hulle ontplof, kan jy die lyk nie kry nie want dit is vyf straatblokke verder’. Hy het die voorstanders van ‘skoon energie’ bespot, die verskuiwing na elektriese motors bestempel as malligheid en die een of ander elitistiese bedrogspul.
In een stadium het Trump daarop aanspraak gemaak dat sy ‘big beautiful bill’, wat dieselfde middag deur die Kongres aanvaar is, twee biljoen plase in Amerika sal vrywaar teen boedelbelasting, ten spyte daarvan dat daar net sowat twee miljoen plase in Amerika is, en die meeste van hulle betaal in elk geval gladnie boedelbelasting nie. Trump het ook daarop aanspraak gemaak dat Iran hom gebel en toestemming gevra het om missiele op ’n Amerikaanse basis af te vuur omdat hulle, volgens Trump, hul eer moes herstel nadat hulle deur Amerika gebombardeer is. Trump beweer hy het hulle hoflik ingelig dat hulle kan voortgaan. Bisar.
Trump het beloof dat sy wetsontwerp belastings op maatskaplike sekuriteit sal uitskakel, wat eenvoudig nie waar is nie. Geen sulke waarborge is in die wetgewing ingesluit nie, en bejaardes wag verniet dat hierdie droom bewaarheid sal word. Hierna het hy, soos gewoonlik, sy ongeloof in klimaatsverandering bevestig. Hy het geredeneer omdat dit nie tydens sy ‘parade in Washington’ gereën het nie, is dit ‘n bewys dat klimaatsverander nie bestaan nie. Trump het voorts trots verklaar dat sy wetgewing finansiering sal verseker vir standbeelde van ‘groot Amerikaners’, en gegrap die skare beter hóm kies. My indruk is sy begrip van die klimaatswetenskap is net so bedenklik as sy begrip van die werklikheid, en die moontlikheid dat die belastingbetalers moet opdok vir ‘n tuin van heldestandbeelde klink soos iets uit Noord-Korea. Die soort dwaling wat maklik deur die MAGA-beweging aanvaar sal word.
Trump het voorts voorgestel dat boere toegelaat moet word om die verantwoordelikheid te neem vir hul immigrantewerkers ‘wat die hele dag gebukkend staan’, en geskimp op ’n stelsel waarin die regte en toekoms van immigrante sal afhang van die persoonlike goedkeuring van plaaseienaars. Plantasielogika herverpak vir moderne outoritarisme? Trump het groot gewag daarvan gemaak dat hy ‘Los Angeles gered het van afbranding tydens onluste’ deur die Nasionale Wag in te stuur, ’n stelling wat eenvoudig totaal onwaar is. Hy het ook beweer hy het Los Angeles gered deur water van die noorde van Kalifornië na die suide te kanaliseer om brande te beveg.
Die werklikheid is die water van Kalifornië is nie in ‘n pypstelsel wat ‘n presidensiële held in staat stel om ‘n kraan oop te draai en Los Angeles te red nie. Dwarsdeur sy toespraak het Trump dieselfde leuens verkondig, dieselfde sameswerings genoem wat deel van sy politieke handelsmerk is. En die skare in Iowa het hom toegejuig, nie omdat sy woorde enigiets beteken het nie, maar omdat hy ’n ‘performer’ is en hulle gekom het om sy vertoning te sien. ’n Toespraak nie soseer om mense in te lig nie, maar om emosies te ontsteek, om die aandag van die waarheid af te lei, en om sy ondersteuners lojaal te hou onderwyl hy die Amerikaanse politiek dieper die modder insleep.
’n Harde oordeel wat ook deur verskeie gesoute, ervare Amerikaanse politieke kommentators gehuldig word, en waarvoor sy ondersteuners my sal kasty. Maar ongelukkig, volgens my beskeie mening, die nare werklikheid.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
