South Coast Fever

BLOG: Wêreldleiers is aandadig aan die volksmoord in Gaza

Toe hierdie berig geskryf is, het Israel ’n meer gematigde houding ingeneem oor die blokkasie van voedsel en ander voorraad, (wat volgens Israel toegepas word om Hamas te dwing om ’n skietstilstand te aanvaar en die oorblywende gyselaars vry te laat).

Dis ’n kontensieuse saak met totaal uiteenlopende menings onder mense, maar wat nou in Gaza aan die gebeur is, is ’n misdaad teen die mensdom, en niks anders as volksmoord nie. Ja, Hamas het die heftige terugslaan-aksie van Israel uitgelok met sy barbaarse aanval op Israeli’s in Oktober 2023, waartydens 1139, talle van hulle jongmense by ’n musiekfees, brutaal vermoor en meer as 200 as gyselaars geneem is.
Sewe-en-twintig is in aanhouding dood, ander is uitgelewer, maar Hamas hou volgens die jongste berekenings nog sowat 20 aan. Israel het die volste reg gehad om teen Hamas op te tree, en sedertdien is sy terroriste genadeloos gejag, hul skuilplekke en ander geboue in Gaza gebombardeer, hul getalle drasties uitgedun, van hul topleiers gedood, en hul infrastruktuur verwoes. In die proses is die meeste van Gaza se geboue, insluitende hospitale en skole, in puin omskep, en bykans 60 000 Palestyne, ’n groot aantal van hulle vroue en kinders, gedood en 135 000 gewond. Sowat 900 Israelse soldate het gesneuwel.

Toe hierdie berig geskryf is, het Israel ’n meer gematigde houding ingeneem oor die blokkasie van voedsel en ander voorraad, (wat volgens Israel toegepas word om Hamas te dwing om ’n skietstilstand te aanvaar en die oorblywende gyselaars vry te laat). Minstens 120 Palestyne, meesal kinders, reeds van honger gesterf, duisende, veral kinders, is totaal ondervoed, en die dodetal sal verder styg tensy iets drasties gedoen word. Intussen sterf mense steeds elke dag in Israelse aanvalle op Gaza, en is daar feitlik geen mediese dienste meer beskikbaar nie.

Talle mense meen Israel het die volste reg om so op te tree agv. die Hamas-aanval, en wil niks weet van kritiek teen die land nie. Daarenteen is daar alhoemeer, insluitend in Israel self, wat meen genoeg is genoeg. Die uwe stem heelhartig daarmee saam. Dit moet einde kry, die straf wat Israel uitgedeel het, is lankal totaal buite verhouding tot die wandaad van Hamas. Politici in Israel meen Netanyahu rek die oorlog uit om sy eie politieke loopbaan te red en uit die tronk te bly op aanklagte van onder meer bedrog, waarop hy reeds in die hof verskyn het.

Daar is oral groot kritiek oor Amerika se houding en president Trump se boodskap aan Netanyahu ‘to finish the job’, asook beroepe op ander lande om sterker druk op Israel uit te oefen. Die videomateriaal op TV-kanale te sien is, veral op Al Jazeera, is ontstellend, maar weerspieël nogtans nie naastenby die volle tragedie wat daar aan die gebeur is nie. Eerstehandse verslae, veral van Palestynse joernaliste, wie se geledere ook kwaai deur die daaglikse Israelse bombardemente uitgedun is, vertel van verskriklike menselyding.

Ahmed Aziz is een van die joernaliste, en hy skryf Palestynse gesinne bedel vir brood, hul kinders ly die ergste honger denkbaar, en die ouers bid dat die dood hulle moet verlos. Hy sê elke dag bring wanhoop vir sowat twee-miljoen mense wat reeds meer as drie maande lank, te midde van ‘n onvergeeflike stilte van die internasionale gemeenskap, die verskriklikste hongersnood beleef omdat Israel kosvoorrade blokkeer.

Welsynsorganisasies probeer hul bes, maar daar is nie naastenby genoeg kos nie. Mense val om in die strate weens ernstige uitputting, van hulle sterf naby die ruïnes van bakkerye of by voedsel-verspreidingspunte waar daar bitter min is om te versprei nie. Kos wat wel beskikbaar is, is peperduur. Daar is nie olie, rys, brood of selfs ‘n blikkie tuna nie. Gebiede wat as ‘veilig’ aangedui is, words doodsakkers. Verhongerde mense wat daarheen gaan, word deur skerpskutters geteiken.

Aziz skryf kinders huil elke dag en vra brood, maar die oorlewende ouers het niks om te gee nie. Van die kinders se vaders verlaat bedags hul tente omdat hulle nie meer die kyk in kinders se oë kan verduur nie. ‘Ek het ’n moeder gesien wat harstogtelik gebid het dat haar kinders moet sterf omdat sy hulle nie meer kan kos gee nie,’ skryf Aziz, ‘ander moeders sit voor die ingang van hul tente en prewel dat God die kinders uit hul lyding moet verlos’.

Aziz skryf hy en sy vrou se sporadiese etes word uit niks uit nie opgetower. Dalk lensies en pasta wat hy iewers bekom het, rys wat oor ’n houtvuur gekook is en sop wat van niks anders as water gemaak word nie.
‘Ons slaap om van die honger af weg te kom, maar die honger word saam met ons wakker’. In ’n straat staan ’n kind en staar na ’n man wat yswater verkoop. Dit kos ’n halwe dollar, maar niemand kan dit bekostig nie. Iemand wat ’n toebroodjie eet, loop verby. Vyf tot tien kinders en ’n paar ou mans vra hom om hulle asseblief ’n stukkie te gee. By die Nasser-hospitaal in die suide, die laaste funksionerende hospitaal, is daar geen medisyne of kos nie, behalwe die geskreeu van moeders, die trane van pasiënte en diegene wat besig is om ’n hongerdood te sterf.

Aziz kan nie verstaan waarom die wêreld nie meer doen om hulle te help pleks van net praat en resolusies aan te neem nie. Ek ook nie. G’n wonder die Internasionale Strafhof het Netanyahu tot oorlogsmisdadiger verklaar nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button