South Coast Fever

Ernstige lugturbulensie – waarom kom dit nou meer voor?

Met hierdie dinge in my geheue, het ek vandeesweek afgekom op nuusberigte dat vlieëniers wêreldwyd alhoe meer verslag doen oor turbulensie tydens hul vlugte, waarvan sommige gevalle so erg was dat passasiers en vlugbemanningslede beserings opgedoen het.

Die Pretoriusse se oudste seun werk reeds meer as tien jaar in China, en is op die oomblik in Suid-Afrika tydens een van sy twee jaarlikse vakansies. Hy was voorheen in Qatar, en agv. sy werksomstandighede het hy reeds tientalle lang internasionale vlugte op sy kerfstok, baie van hulle in die Chinees-Asiatiese deel van die wêreld. Toe hy in Januarie vanjaar vir ’n besoek hier was, het hy opgemerk hoewel hy voorheen op die roete huistoe lugturbulensie ervaar het, was dit tydens daardie vlug baie erg, veral oor Thailand.
Ná die jongste vlug het hy ons meegedeel dis asof die turbulensie erger was as vantevore, en daardie deel van die vlug was nie baie aangenaam nie. Daar was ook die afgelope maande berigte oor Suid-Afrikaanse binnelandse vlugte wat buitengewone turbulensie ervaar het waartydens die betrokke vliegtuie goed rondgeskud is. In my jong joernalistieke dae het ekself sulke ervarings gehad, insluitend een ernstige voorval in ’n Dakota bokant Botswana waartydens my whisky teen die dak van die vliegtuig vasgeplak is en ekself saam met ander passasiers uit ons sitplekke gegooi is en op die vloer beland het.

Met hierdie dinge in my geheue, het ek vandeesweek afgekom op nuusberigte dat vlieëniers wêreldwyd alhoe meer verslag doen oor turbulensie tydens hul vlugte, waarvan sommige gevalle so erg was dat passasiers en vlugbemanningslede beserings opgedoen het. Op die internet is daar verskeie skryfsels oor die verskynsel, en ’n artikel deur die Wêreld-ekonomiese Forum gee ’n insiggewende oorsig van veral die oorsake daarvan. Verskeie gevalle van ernstige lugturbulensie word genoem en besonderhede gegee van wat in die vliegtuie gebeur het. Daar word volledige inligting verskaf waarvoor daar nie hier ruimte is nie, en ek verwys na enkele hoofpunte.

Die Forum wys daarop hoewel meer gevalle van erge turbulensie voorkom, is lugreise steeds die veiligste manier om passasiers te vervoer, en die bedryf self sê weens modern tegniese ontwikkelings word dit alhoe veiliger. Die Forum stem saam met ander kenners vanoor die hele wêreld dat die hoofoorsake van die toenemende lugturbulensie aardverwarming en klimaatsverandering is. Die definisie van lugturbulensie is onreëlmatige lugbewegings wat ‘n vliegtuig se vlug beïnvloed.

Dit gebeur onder meer weens ’n verandering van windsnelheid en -rigting, in die algemeen veroorsaak deur berge, sg. stralerstrome en storms. Lugdienste kan hierdie turbulensiestreke voorspel en vermy, en vlugbemannings word deeglik opgelei om risikos vir passasiers in sulke voorvalle te hanteer. Die impak van lugturbulensie op vliegtuie kan wissel van enkele ligte ‘stampe’ tot gevalle wanneer beheer oor die vliegtuig tydelik verloor word, of selfs strukturele skade opdoen.

Hoewel hierdie voorvalle ernstige ongemak vir passasiers kan veroorsaak, is ernstige beserings of selfs sterftes op groot vliegtuie baie seldsaam. Die Federale Lugvaart-administrasie berig dat 37 passasiers en 137 vlugbemanningslede tussen 2009 en 2023 tydens sulke voorvalle ernstig beseer is. In dieselfde tydperk het die getal kommersiële vlugte per jaar van 26-miljoen tot meer as 40-miljoen toegeneem, wat aantoon hoe klein die persentasie beserings is.

Daar is verskillende soorte turbulensie, elkeen met sy eie karaktertrekke en oorsake, en van hulle bring unieke uitdagings vir sowel passasiers as vlieëniers: i. Konvektiewe of termiese turbulensie weens die oneweredige verwarming van die aardoppervlakte, wat stygende warm lug en dalende koue lug veroorsaak. ii. Meganiese turbulensie word veroorsaak deur wrywing tussen lug en oneweredige aardoppervlaktes of strukture soos geboue. iii. Bergreeks-turbulensie kom voor wanneer die vloei van lug deur die berge versteur word. iv. Frontale turbulensie wat voorkom wanneer warm en koue lugmassas interaksie het. v. Turbulensie wat deur die vlerke van vliegtuie veroorsaak word. vi. Donderstorm-turbulensie wat ver buite die storm self gevoel kan word. vii. Skoonlug-turbulensie, oftewel CAT of Clear Air Turbulence, wat verband hou met ‘wind shear’ of windskering, en baie hoog voorkom in op die oog af skoon lug, dikwels wanneer vinnig bewegende lug naby aan die stadiger lug van die vliegtuigstroom kom.

Dit bring mee dat die opwaartse druk onder die vlerke van die vliegtuig afneem of verdwyn. Dis feitlik onsigbaar vir die oog, sensors of satelliete. In 2023 het CAT ’n vliegtuig onderweg van Duitsland na Texas, tydens die bediening van ‘n ete skielik meer as 300 meter laat ‘val’ toe passasiers en kajuit-bemanning vryelik rondgeloop het. Sewe mense is hospitaal toe geneem, gelukkig met minder ernstige beserings. In Mei verlede jaar het dieselfde gebeur met ‘n vlug tussen Londen en Singapoer, met verskeie beserings en een sterfte.

Vlieëniers gebruik verskeie tegnologiese tegnieke en strategieë om turbulensie te identifiseer en hanteer, soos weervoorspellings voor die vlug, radarstelsels aan boord, en inligting tydens die vlug van ander vlieëniers. Hulle doen dan die nodige hoogte- of roete-aanpassings in oorleg met lugverkeerbeheer-instansies. Vir die herkenning van CAT, wat nie deur radar opgespoor kan word nie, maak die vlieënier staat op voorspellings, verslae van ander vliegtuie, en hul eie ervaring. Wanneer turbulensie ervaar word, word passasiers daaroor ingelig en gevra om hul sitplekgordels vas te maak en te hou totdat hulle anders ingelig word. Tussen 1979 en 2020, het die voorkoms van ernstige CAT oor Amerika en die Noord-Atlantiese Oseaan, een van die aarde se besigste vlugroetes, met 55% toegeneem. Die voorspelling is dat vlieënier teen 2050 twee keer soveel ernstig lugturbulense as nou sal ervaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button