South Coast Fever

‘n Springboknederlaag Saterdag sal Rassie se reputasie knou

Ek wens ons lesers kon die gesigte van die mense in ’n tjok-en-blokvol Watergat verlede Saterdagoggend sien. Net nadat Willie le Roux se kolossale blaps en Malcolm Marx se swak lakwerk Nieu Seeland binne l4 minute teen die Bokke laat voorloop het. Die ongeloof was nie soseer oor die All Blackpunte nie, maar die besef

Ek wens ons lesers kon die gesigte van die mense in ’n tjok-en-blokvol Watergat verlede Saterdagoggend sien. Net nadat Willie le Roux se kolossale blaps en Malcolm Marx se swak lakwerk Nieu Seeland binne l4 minute teen die Bokke laat voorloop het. Die ongeloof was nie soseer oor die All Blackpunte nie, maar die besef dat twee ervare Springbokke liederlike blapse begaan het wat hulle die wedstryd kon kos.

Soos Oom Pottie tereg na die wedstryd opgemerk het, ‘lyk my van die ervare manne het vandag nie opgedaag nie’. Marx se lynstaan-ingooie en verstandhouding met mede-voorspelers was by tye power, Eben Etzebeth was louwarm, Handré Pollard se losskakelspel so-so, en ons senters, hoewel hulle sterk hardlopers is, het gelyk asof hulle nie genoeg spoed het nie. Cheslin Kolbe het ook by tye stadiger voorgekom, maar ek het my waarskynlik verbeel. Dalk die nat veld.

Ewenwel, Rassie het die nodige gedoen, soos hy dit sien, en die hele agterlyn vir Saterdag, van Cobus Reinach af regdeur tot Aphelele Fassi as heelagter, het spoed en flair. Indien hulle ‘kliek’, het die All Blacks probleme. Indien nie, wel, dan kan ons waarskynlkik nie meer die kampioenskap wen nie. Onder die voorspelers is Jasper Wiese terug op nommer agt, Lood de Jager is op slot, Siya op flank, en die spelers op die bank, ook die bomb squad, lyk indrukwekkend. Die potensiaal is dus daar vir goeie Bok-oorwinning. Indien die All Blacks Saterdagoggend weer wen, wil ek liewer nie hier wees nie, want ek weet wat gaan gebeur.

Die kommentare van die besoekers gaan genadeloos wees. Ek tel reeds menings in die sosiale media op dat Rassie soms groot oordeelsfoute maak. Daarenteen, indien die Bokke wen, en goed wen, sal hy geloof word vir sy visie en mannemoed om die nodige (nogal gewaagde) aanpassings te maak. Om hierdie rede stem ek met Oom Pottie saam dat Saterdag se wedstryd een van die belangrikste wedstryde van Rassie se tyd by die Bokke is. Sy eie en die span se reputasie is op die spel. Daarbenewens lê Argentinië en Ierland, onder andere, nog voor. Aan ’n nederlaag Saterdag, en een of twee teen genoemde twee, wil ek nie eens dink nie. Dan sal die spreekwoordelike kat in die Springbok-duiwehok wees. Ons sal net sien vere waai soos die beskuldigings heen en weer vlieg met Rassie in die spervuur.

Die Curriebekerkompetisie verloop uiters interessant. Die Lions teen die Kavaliers, die Cheetahs teen die Griekwas in die kwarteindstryde. My raaiskoot oor die 2025-kampioen? Die Lions, want hulle sal die tuisveld-voordeel hê tot in die eindstryd. Hiermee volstaan ek vir vandeesweek, en gaan doelbewus niks sê oor die Protea-krieketspan se liederlike pak slae nie.

Ons loopstorie uit Oom Pottie se argief: Vyf maniere om vas te stel of jy van Brakpan af kom: Die Halloween-pampoen op jou stoep het meer tande as jou meisie. Jy laat jou 16-jarige dogter toe om te rook voor haar kinders. Jy is al drie keer getroud, maar jou skoonouers bly dieselfde. Die grootste stad waarby jy al was, is Liquor City. Jou bure dink jy is ’n speurder, want die polisie bring jou altyd huis toe.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button