South Coast Fever

Nagkantoor en Kaapsche Hoop – steeds unieke kuierplekke

Deesdae tree talle bekende musiekkunstenaars ook daar op en word spesiale sosiale geleenthede gehou waarby bekende Suid-Afrikaners betrokke is.

Die uwe het weereens die voorreg gehad om ’n genoeglike naweek saam met oud-kollegas in die joernalistiek, bekende skrywers en ander interessante mense deur te bring op vir seker een van die skilderagtigste en atmosfeerbelaaide dorpies in Suid-Afrika. Die geleentheid was die derde Natsteenbyeenkoms en tweede Innibos-boekenaweek by die Nagkantoor-kuierplek op Kaapsche Hoop in Mpumalanga. Nodeloos om te sê, dit was wonderlik om weer te gesels met kollegas uit die verlede, herinneringe uit te ruil, die stand van ons beroep te bespreek met ’n vloeibare verfrissing in die hand, en te luister na die bespreking van verskeie boeke van bekende skrywers. Voorwaar ’n wonderlike ervaring.

Die besluit om hierdie jaarlikse naweek aan te bied is drie jaar gelede geneem deur die bekende oud-joernalis De Wet Potgieter, die eienaar van die kuierplek, en ander kollegas. Die eerste byeenkoms was ’n reuse-sukses, en die volgende twee is gekombineer met die Innibos-boekenaweek, wat ’n bykomende, uiters gewilde en interessante element ingebring het. Voeg hierby die atmosfeerbelaaide Nagkantoor-kuierplek met sy mure en rakke vol joernalistieke memorabilia en nostalgie, en waarskynlik die bekendste Facebookhond in die land, Potlood Pencil Potgieter, die unieke karakter van die skilderagtige Kaapsche Hoop, en die tafel is gedek vir ’n unieke ervaring, nie alleen vir joernaliste nie, maar vir ander lede van die samelewing wat die plek ontdek het, en gereeld soontoe gaan vir ’n wegbreek-naweek of blitsbesoek. Deesdae tree talle bekende musiekkunstenaars ook daar op en word spesiale sosiale geleenthede gehou waarby bekende Suid-Afrikaners betrokke is.

Hierdie mense het eens by die SABC gewerk of werk steeds daar. Agter is Dries van Heerden, Marius Bakkes, Foeta Krige, Jenine Coetzer, Angie kapelianis. Voor: Die uwe en Eugene Yssel.

Verlede naweek se boekbesprekings was uit die boonste rakke, hoofsaaklik omdat die skrywers en onderhoudvoerders swaargewigte was wat hul voorbereiding deeglik gedoen het. Van die hoogtepunte was die gesprekke rondom Marita van der Vyver se jongste boek ‘My jaar van vrees en Vryheid’ wat handel oor haar en haar man Alain Claisse se ‘gap’-jaar wat hulle oral oor die wêreld geneem het.
Dana Snyman, ’n inwoner van Kaapsche Hoop, het gesels oor sy boek ‘Wie de hel is Johnny Joubert?’ en die goue draad van rugby wat deur sy lewe loop. Daar was besprekings oor verskeie ander nuwe publikasies, en die een waarin die joernaliste uiteraard baie belang gestel het, is Barnard Beukman se boek oor die omstrede sluiting van verskeie van Media 24 se koerante, onder meer Rapport en Beeld.

Foeta Krige, die deurwinterde afgetrede joernalis wat veral onthou sal word vir sy rol in die woelinge binne die SAUK se nuusdepartement waarby die berugte Hlaudi Motsoaneng betrokke was, het die gesprek gelei. Beukman, self ’n ervare, deurwinterde joernalis en die laaste redakteur van Beeld, het verwys na die trauma wat binne Media 24 deur joernaliste ervaar is weens die manier waarop die hele aangeleentheid gehanteer is. Hy het onder meer daarop gewys dat die skok soveel groter was omdat hulle daarvan bewus geraak het na ’n uitsending van Moneyweb, kort nà die viering van Beeld se 50e verjaardag.

Die uwe het nog net ’n kwart van die boek gelees, en die indruk wat ek gehad het het dat daar agter die skerms ernstige en lotsbepalende woelinge aan die gang was, onder meer oor die rol van die omstrede grootbaas, Koos Bekker, en die oordeels- en bestuursfoute wat senior mense van Media 24 gemaak het, is reeds bevestig. ’n Genotvolle, insiggewende en gesellige naweek. Kan nie wag vir aanstaande jaar se naweek nie, DV, waarvoor die beplanning reeds begin het.

Die bekende skryfster Marita van der Vyfer en haar man Alain Claisse wat gesels het oor haar boek ‘My jaar van vrees en vryheid’. Sy het vertel van die jaarlange reis wat hulle deur ‘n groot deel van die wêreld geneem het. By hulle is ‘Mnr. Nagkantoor’, De Wet Potgieter.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button