Charlie Kirk – voorbeeldige Christen of verdelende opstoker?
Hoewel Kirk ’n toegewyde, praktiserende Christen was, gesonde gesins- en lewenswaardes voorgestaan en derduisende aanhangers gehad het, was daar ook ‘n skadukant, waarvan sy aanhangers moontlik nie geweet het nie, of geïgnoreer het.
Daar was baie lanklaas so ’n hewige reaksie op ’n sluipmoord op ’n prominente Amerikaner as na die sluipmoord op die 31-jarige politieke aktivis Charlie Kirk in Utah. Kirk was ’n groot ondersteuner van president Donald Trump en aktief betrokke in die MAGA-beweging, inderwaarheid ’n groot vriend van die president, die stigter van die beweging Turning Point USA met miljoene volgelinge op die sosiale media, en ‘n uitgesproke, gelowige Christen. Daarbenewens was hy vir baie die toonbeeld van ’n ware patriot, ’n voorbeeldige gesinsman met gesonde morele waardes.
Daarom het ’n skokgolf deur Amerika getrek toe hy helder oordag, terwyl hy met studente debatteer het, deur ’n sluipskutter in die nek geskiet is en feitlik onmiddellik gesterf het. Dit was ’n sinnelose daad deur die 22-jarige Tyler Robinson wat kort daarna deur sy ouers aan die owerheid uitgelewer is. Met die skryf van hierdie berig was die moordenaar se motief vir die sluipmoord nog nie bekend nie, maar is die voorval oral ter wêreld wyd verdoem, en die uwe stem saam dit was ’n laakbare, sinnelose daad. Charlie Kirk het dit nie verdien nie, ongeag sy omstredenheid.
Talle bekendes en prominente mense het heftig gereageer, ook in die buiteland, en was verdoemend in hul kommentaar, onder wie prominente lede van die MAGA-beweging, asook president Trump self. Charlie Kirk was duidelik ’n baie spesiale mens in die oë van miljoene, veral diegene met konserwatiewe, Christelike en gesinswaardes. Die President het onmiddellik die blaam geplaas op ‘die radikale linkses’. ‘Ons het hier te doen met ’n ‘radikale linkse groep mal mense, wat nooit regverdig optree nie’.
Hy het te kenne gegee dat linksgesinde en liberale mense, die Demokratiese Party en en enigiemand wat hom teenstaan, aandadig aan Kirk se dood is. Prominente politici van die Republikeinse Party regoor die land het dieselfde sentiment uitgespreek, sommige van hulle in baie sterk taal. Die aanbieder Jesse Walters van Fox News het verklaar ‘of ons dit nou aanvaar of nie, hulle het oorlog teen ons verklaar. Die vraag is nou wat gaan ons daaromtrent doen?’
Intussen lyk dit asof Robinson alles behalwe ’n linksgesinde is of was. Niks is nog amptelik nie, want tot dusver, toe hierdie rubriek geskryf is, wou hy nie met die amptenare wat hom aanhou, praat nie. Uit verskeie redelik betroubare bronne blyk dit egter dat hy ‘n groot aanhanger van President Trump en die MAGA-beweging was en reeds in sy vroeë tienerjare sterk regse politieke sienswyses gehad het. Hoewel daar aanvanklik bespiegel is dat hy ’n lid van die Republikeinse Party is of was, is daar berigte stemregisters in Utah toon dat hy geen party-affiliasies het nie.
Daar is egter aanduidings dat hy betrokke was by die aktiwiteite van die verregse, 27-jarige Nic Fuentes wat ’n kultusgevolg het met die naam ‘Groypers’ of ‘The Groyper Army’. Fuentes en sy groep, meesal jong, wit en Christen-nasionalisties met erg regse standpunte, teiken prominente konserwatiewe openbare figure op sy digitale platform ‘merica First’, het in die verlede vergaderings van Kirk se Turning Point USA ontwrig. Fuentes het TPUSA gekritiseer en daarvan veskuldig dat Kirk en sy groep Donald Trump verraai deur wettige immigrasie te propageer, hulp aan Israel bepleit, en te toegewend is ivm. homoseksuele mense.
Fuentes word bestempel as ’n volwaardige neo-Nazi. Hy ontken die volksmoord van Jode het ooit plaasgevind, en is ten gunste van ’n ‘heilige oorlog’ teen Israel. Dit lyk dus asof Robinson dalk hieroor ’n wrok teen Kirk gehad het. Dis egter nog alles bloot bespiegeling.
Hoewel Kirk ’n toegewyde, praktiserende Christen was, gesonde gesins- en lewenswaardes voorgestaan en derduisende aanhangers gehad het, was daar ook ‘n skadukant, waarvan sy aanhangers moontlik nie geweet het nie, of geïgnoreer het. Hoewel sy heftigste kritici en teenstanders die sluipmoord sterk veroordeel het, wys hulle egter op van sy omstrede uitlatings. Onder meer dat die Burgerregtewet van 1964 ‘n groot fout en ‘n ‘anti-wit-wapen’ is.
Indien sy tienjarige dogter verkrag en verwagtiend word, het hy verklaar, sal hy haar dwing om aan die baba geboorte te gee. Wanneer hy met ’n ‘moroniese swart vrou’ by ’n klantediens te doen kry, sal hy wonder of sy bloot daar is weens regstellende aksie, Sterftes in gevalle waar mense met vuurwapens amok maak, sal verduur moet word omdat vuurwapens beskikbaar moet wees sodat Amerikaanse burgers hulself kan verdedig. Kirk het Martin Luther King bestempel as ’n egbreker, verkragter en rassistiese Marxis. Wanneer hy ’n swart vlieënier teëkom, het hy gesê, hoop hy die man behoorlik opgelei.
Kirk was openlik, onapologeties anti-Moslem, het tydens een van sy optredes verklaar hy is ten gunste van die steniging van homoseksuele mense soos in Levitikus genoem, en dit as ‘God se perfekte wet’ bestempel. Kirk het ook verklaar hy is gekant teen die woord ‘empatie’, want dis ’n ‘new age’-begrip wat groot skade aanrig. Tydens een van sy uitsendngs het hy verwys na verskeie prominente swart Amerikaanse vroue soos Michele Obama, en gesê ‘hulle het nie die breinkapasiteit om ernstig opgeneem te word nie en neem bloot die plek in van bekwame blankes.
Daar is nog verskeie ander kontroversiële uitlatings en optredes van Kirk, en dit is duidelik dat sy persona en nalatenskap skerp onder die soeklig gaan kom namate die regsproses ivm. sy dood ontvou. Die enigste sekerheid is dat dit Amerikaners verder gaan polariseer.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
