South Coast Fever

JOHAN PRETORIUS: Maatskaplike onrus en politieke geweld Suid-Afrika se voorland?

Ek het ‘n oorsig van die situasie deur Shaun Jacobs in die Daily Investor raakgelees, wat my vrese bevestig.

Toe die uwe baie jonger was, het ’n dosent in geskiedenis ons studente aangeraai om, indien ons perspektief wou kry oor gebeure rondom ons, moes ons in ons verbeelding ‘op die maan gaan sit en na die aarde kyk’. Die doel hiermee was om dan ‘af te kyk’ na die gebeure onder ons, en om onmiddellik ’n realistiese prentjie oor die volle spektrum te kry pleks van enkele gebeure die een na die ander asof ons tussen hulle ‘op die aarde’ is. Ons het gemeen dis sommer nonsens. Hy het ons aangeraai ons dit te doen, en dan besluit of dit nonsens is.

Dit was in die vroeë sestigerjare met die kwaai onrus in die destydse Suid-Afrika, en nadat van ons studente in die drie dae wat verloop het tot die volgende geskiedenisklas, wel probeer het om dit te doen, het van ons gevoel ons het wel nuwe perspektiewe gekry. Pleks daarvan om op ‘n gegewe tyd kennis te neem van enkele verwikkelinge, help die oefening jou om ‘onbevange’ na die volle spektrum te kyk.

Dit help jou om een slag wyer te kyk en kennis te neem van verskeie ander, veral verwante, gebeure, selfs in die buiteland, wat ’n mens help om realistiese perspektiewe en veral konneksies en raakpunte te identifiseer . Van ons studentemaats het gerapporteer hulle het niks geleer nie, maar ek doen dit steeds periodiek, en dit werk vir my. Die voorwaarde is natuurlik dat ‘n mens al die moontlike tersaaklike inligting moet hê om geldige menings te vorm. Die oefening is futiel indien jy jou net verlaat op nuus- en inligtingsbronne wat jou inligting en menings gee waarmee jy saamstem. Of indien jy bloot nie behoorlik ingelig is nie.

Ek noem dit vandeesweek na aanleiding van die verskeie politieke en verwante gebeure in die land wat my bekommer. Die vinnig-stygende pryse, veral van elektrisiteit, gebrekkige watervoorsiening op plekke, swak dienslewering, veral in die ANC-beheerde munisipaliiteite, ernstige politieke woelinge, endemiese korrupsie, ’n regering wat in baie opsigte oogtlopend die kluts kwyt is, en aanstaande jaar se munisipale verkiesings. Ek het weer ‘op die maan gaan sit’, en na deeglike bepeinsing was my gevolgtrekking dat ons op pad is na ’n spanningvolle tyd in ons geskiedenis, en in die besonder moontlike onrus en geweld. Ek het ‘n oorsig van die situasie deur Shaun Jacobs in die Daily Investor raakgelees, wat my vrese bevestig.

Hy sê Suid-Afrika kan inderaad afstuur op ‘n ‘near perfect storm’, soos President Ramaphosa dit genoem het, met gevolglike wydverspreide maatskaplike onrus en politieke geweld indien daar nie betyds regstellende maatreëls ingestel word nie. Jacobs verwys onder meer na die vinnig-stygende elektrisiteitspryse en watertekorte, en waarskuwings hieroor deur die Minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgoba, President Ramaphosa self, en verskeie burgerregte-organisasies.

Ramokgoba het verskeie kere reeds gewaarsku dat plaaslike gemeenskappe hulle hierteen gaan begin verset, en bygevoeg van hierdie weerstand kan dalk kom van georganiseerde misdaad-sindikate wat geld maak met onwettige konneksies in informele nedersettings. Die minister meen indien hierdie sindikate vasgevat word, gaan die protes nie net van hulle af kom nie, maar ook van die inwoners wat dan sonder elektrisiteit sal wees.

Jacobs wys daarop hierdie krisisse kom voor onderwyl die president en die uitvoerende gesag ooglopend onwillig is om beslissend op te tree om die land se probleme op te los. Dit lyk ook asof die uitvoerende gesag nie in staat is om om sleutel-instellings soos die weermag en die polisie doeltreffend te beheer nie. Benewens die wydverspreide korrupsie wat deur die Madlanga-kommissie blootgelê is, het senior militêre amptenare die regering skerp gekritiseer en selfs in sekere gevalle self buitelandse beleidsbesluite geneem.

Die hoof-ekonoom van die Efficient Group, Dawie Roodt, het onlangs opgemerk hoewel talle mense saamstem met menings van hierdie individue wat die regering kritiseer, is dit nie hul verantwoordelikheid om politieke verandering te probeer bewerkstellig nie. Hierdie bedenkinge, veral dié oor hoe die staat bestuur word, moet in die politieke arena geopper word, en nie deur wetstoepassers en militêre mense nie.

Burgers van die land, politieke partye en die regering moet hierdie probleme oplos. Roodt sê hy stem bv. nie saam by wie die regering hulself internasionaal skaar nie, maar dis die regering se taak om dit uit te sorteer. Indien Suid-Afrikaners nie met die regering saamstem nie, moet hy uitgestem word. Roodt kry die indruk dat die president en die regering swak is, en sal nie verbaas wees indien daar binnekort veranderinge in die ANC plaasvind nie. Hy is baie bekommerd oor die politieke stabiliteit van Suid-Afrika.

Die Sentrum vir Risiko-analise stem saam met Roodt se sentimente, en verwag meer politieke turbulensie binne die ANC namate die party se verkiesingskonferensie in 2027 nader kom. Namate die ANC se greep op mag verswak, en die Suid-Afrikaanse politiek meer mededingend raak, word die moontlikheid van politieke geweld groter. Die patronaat-netwerke binne die ANC, wat oor baie jare gevestig is, sal nie goedsmoeds verdwyn indien hulle bedreig word nie. Die regering se kwynende vermoë om misdaad te bekamp, beteken kriminele rolspelers vul regeringsgapings, veral in plaaslike munisipaliteite. Navorsing toon 79% van Suid-Afrika se sake-ondernemings is bekommerd oor moontlike maatskaplike onrus, en vrees ‘n herhaling van die onluste van 2021.

’n Mens kan net hoop koelkoppe sal seëvier, want die aanloop tot die munisipale verkiesings gaan vir seker ’n rowwe rit wees.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button