Hoe kiemvry is mansbaarde werklik?
My ouma het ook vertel van die Britse soldate se probleme. Hulle het nie lang baarde gehad nie, maar moes ook probleme gehad het met persoonlike higiëne wanneer hulle nie in stede of in hul barakke was nie.
Vandeesweek se onderwerp het ek jare gelede aangeraak, maar daar was die afgelope tyd verskeie ervarings wat my weer daaraan laat dink en daaroor laat skryf het. Die uwe het ’n boek gekoop met gerestoureerde fotos uit die Tweede Vryheidsoorlog, nou in volle kleur en met KI opgekikker. Die fotos lyk asof hulle met vandag se moderne kameras geneem is, en verskeie interessanthede kan opgemerk word.
Soos bv. hoe verbasend goed versorg van die vroue (waarskynlik net na hul aankoms) in die konsentrasiekampe se hare en hoe netjies hul klere was. Ook die Boerekrygers se verskillende gewere en bandoliers vol patrone rondom hul enerslykende baadjies. ’n Kaalgeskeerde gesig op ’n foto is ’n rariteit. Trouens, die baarde is vol en lank, waarskynlik omdat die krygers in daardie stadium deurentyd in die veld was. Dit het my laat dink aan staaltjies wat my ouma, ’n destydse konsentrasiekamp-inwoner op Bethulie, ons as kinders vertel het oor hoe die Boere in die veld gesukkel het om hul lywe, en veral hare en baarde skoon te hou. Van hulle het weens die guerilla-oorlog weke lank nie behoorlik kon bad nie, en moes hulself probeer skoon hou wanneer hulle by water uitgekom het. Ek kan my nie voorstel dat hulle hul baarde gereeld kon uitkam, was of selfs netjies knip nie.
My ouma het ook vertel van die Britse soldate se probleme. Hulle het nie lang baarde gehad nie, maar moes ook probleme gehad het met persoonlike higiëne wanneer hulle nie in stede of in hul barakke was nie. Sy het vertel hoe sy, voordat sy konsentrasiekamp toe vervoer is, afgekom het op luise waar Skotse soldate met hul tradisionele rokkies in haar huis gesit het nadat hulle vleis en ander kos op hul plaas (my oupa was op kommando) opgekommandeer het. Ek het destyds as kind gewonder of die Boere ‘skoner’ was, en veral hul baarde, maar het liewer nie gevra nie.
Vandag se mans met baarde is in ’n ander liga, veral dié wat hul trots gereeld was, knip en versorg met die indrukwekkende produkte wat deesdae daarvoor beskikbaar is. Sulke mans en hul baarde word onmiddellik raakgesien agv. hul netjiese en versorgde voorkoms. Maar wat van die baarde wat lank, welig, soms redelik yl, en baie lank gelede ’n skêr gesien het? Veral die mans wie se snorre ook nie onder beheer gehou word nie en hul bolip, amper ook die onderlip, bedek? Hoe eet hulle bv. ’n souserige varkribbetjie? ’n Meneer van ’n hamburger? Of ’n roomys? Om nie te praat van ’n vrou soen nie?
Enkele jare gelede het Switserse wetenskaplikes bevind het dat al 18 mans wie se baarde getoets is, bakterieë bevat het, en slegs 23 uit 30 honde dieselfde hoë mikrobiologiese tellings as die mans gehad het. Toe ek dit destyds aan ’n bebaarde vriend genoem het, was sy reaksie “Wat se nonsens is dit?” Ek het verduidelik die berig was geloofwaardig en deur betroubare nuusagentskappe uitgestuur. Monsters is van die hare op die honde se nekke verkry. Die hoofnavorser, Professor Andreas Gutzeit van die Hirslanden-kliniek, het verklaar die studie bewys onteenseglik ‘dat bebaarde mans betekenisvol meer patogeniese mikrobes en mense-siektekieme saam met hulle dra as honde’. In gewone taal beteken dit eenvoudig dat honde ‘skoner’ is as mans met baarde.
Die rede vir die span se navorsing was om te bepaal of dit higiënies is om honde in dieselfde moderne X-straalmasjiene te toets as mense. Al die bebaarde mans tussen die ouderdomme van 18 en 76 het hoë mikrobiese lesings gehad. Sewe van die mans se baarde het kieme bevat wat skadelik vir hul gesondheid kon wees. Die sewe honde wat nie dieselfde hoë lesings gehad het nie, het wel bakterieë gehad, maar baie minder as hul 23 maats en die bebaarde mans. Die professor het verduidelik ‘baardhare’ is growwer en krulleriger en onsuiwerhede klou makliker daaraan vas, met neushare en dié om die mond ‘n vrugbare teelaarde vir bakterieë.
Verskeie kundige medici op verskeie plekke op aarde wys daarop dis onmoontlik om van bakterieë af weg te kom, maar ons moet ook nie in vrees lewe nie. Een het onomwonde verklaar die meeste bakterieë is onskadelik, en indien ons daaraan blootgestel word, kan dit ons inderwaarheid help om ons immuunstelsels te versterk en gesonder te wees. Nog ‘n medikus se mening was “dit is ’n wêreld van bakterieë. Ons leef bloot daarin.”
Wat wel beklemtoon word, is dat voorsorg in die algemeen geneem moet word om onnodige risiko’s te voorkom. Soos om byvoorbeeld die spons-skoonmakers in jou kombuis-wasbak gereeld te vervang. Hoewel betroubare navorsing ook bevind het jou selfoon het meer bakteriee as ’n toilet-sitplek, is dit nie nodig om nou skielik jou selfoon elke uur te ontsmet nie. Spyskaarte in restaurante wat met plastiek oorgetrek is, is feitlik onmoontlik om deurentyd skoon te hou. Onthou ook dat die knoppies in ’n hysbak deur duisende mense gebruik word. In ‘n Amerikaanse hospitaal was die hysbak-knoppies erger besmet as die toiletsitplekke. Daar is nog talle soortgelyke voorbeelde.
Terug by mans se baarde. Myns insiens speel persepsies ’n groot rol. ’n Netjies geklede man met ‘n goedversorgde baard van watter lengte ookal, skep nie kommer nie. ’n Onversorgde baard, veral saam met onnet klere, wel. Al is die baard dalk hoe skoon.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
