Die vrou agter Potters Haven
Marlene Minnie is 'n vrou met 'n hart soos 'n taxi – altyd plek vir meer.
Sy is in Brakpan gebore en het daar skool gegaan.
“Ek skryf en vertel swaar aan die ek,” sê sy.
Sy vertel ons almal kom van iewers af, waar ons vandaan kom is onbelangrik, maar waar ons heengaan – dit maak saak.
Na skool is Marlene getroud en daar was vier kinders uit die huwelik gebore.
Haar lewe was nie maanskyn en rose nie, en so is sy later geskei van haar man.
Later van tyd het sy besluit om te verhuis na Springs om ‘n nuwe begin vir haar en haar kinders te bewerkstellig.
Sy sê as enkelma met vier kinders en ‘n salaris van R2 000 per maand het dit haar ‘n gedertimineerde vrou gemaak.
Dit is juis hierdie skuif wat haar lewe daadwerklik verander het.
Sy het ‘n naelkursus gedoen om ekstra geld in te win en ook probeer na ure werk vir ekstra geld.
Van al die vooroor sit en naels doen, het sy ‘n rugbesering opgedoen en moes vir ‘n rug operasie gaan.
Nog het dit hierdie vrou nie ondergekry nie en het sy, na sy herstel het, so 10 jaar gelede, saam met haar kinders, Bybelskool toe gegaan.
Hier het sy dan ook haar huidige man, Andrew Minnie ontmoet.
Nie lank daarna nie is hulle getroud en het die Minnie gesin van agt na ‘n huis in Struisbult betrek.
Tydens hul verblyf daar, het sy te hore gekom van ‘n plek waar kinders in veilige bewaring was.
“Dit het nie goed gegaan met dié kinders nie en ek was vreeslik bekommerd oor hulle,” sê sy.
So gedetermineerd as wat sy is, het sy die saak met die welsyn opgeneem en dié het met die voorstel gekom dat sy die kinders onder pleegsorg kan neem.
“Met ‘n enorme groot huis het ek en Andrew pleegkinders ingeneem en versorg,” sê Marlene.
Die huis is goed ingerig met agt slaapkamers en dit is waar die nie-winsgewende Potters Haven ontstaan het.
Gedurende hierdie proses was daar soms spanning en bekommernisse, maar nooit ‘n tekort aan liefde nie.
Die vrou agter Potters Haven het al vele kinders onder pleegsorg gehad.
“Tans het ons 13 kinders by ons wat net liefde en aandag vra,” sê sy.
Marlene en Andrew is saam as kapelane opgelei en die twee is tans onafskeidbaar.
“Ek hou van kosmaak, juwele maak en om net in die natuur te sit en alles om my op te drink,” sê sy.
Nadat sy ‘n beradingskursus voltooi het, het sy haar beywer om al die stukkende voëls van die veld met die af vlerke te help.
Daardeur gebruik sy haar passie om mense te help deur vrouens te bedien met berading by iThemba Hope Crisis Pregnancy Centre en ook by House of Hope in Selection Park.
“As ons hande vat, stap ons ver,” sê sy.
So woon Marlene ook gereeld hofondersoeke by vir die kosbare kinders onder haar sorg.
Sy sê sy droom dat God vir hulle ‘n eie plekkie sal gee en nie ‘n huurhuis nie.
Dat daar terapeute soos fisio-, arbeids- en spraakterapeute gratis gemeenskapsdiens wil deur hul hulp te offer aan hierdie kinders sodat hulle bevorder kan word omdat daar so groot agterstand is, is nog ‘n droom.
Maar hierdie besondere vrou se drome eindig nie daarby nie.
Sy sê gaan haal jou dag ver, ons is die verandering wat ons om ons wil sien.
“Ek en jy moet dit laat gebeur,” sluit sy af.



