Cinnamon Circle besoek Die Poppiehuis
Hulle sien dat hierdie 'n plek is waar kinders baie liefde ontvang
Cinnamon Circle het Donderdag ‘n skenking van skoonmaakgoed aan Die Poppiehuis in Vierdelaan oorhandig.
Zelda Fourie, die eienaar van Cinnamom Circle, het gesê hulle het ‘n Valentynsbal op 14 Februarie by hul saal in Strubenvale gehou om hierdie fondse in te samel.
Die skoonmaakgoed wat sy en haar skoonma, Magda Fourie, oorhandig het was geskenk deur Superior Chemical Supplies.
Die Poppiehuis is ‘n veilige vesting vir kinders van tussen twee en 17 jaar. Daar is ook ‘n paar jong volwassenes wat aangebly het nadat hulle skool verlaat het. Party is in pleegsorg en ander is daar deur private reëlings met die kinders se ouers.
Die eienaars van hierdie huis, Riaan en Koks du Toit, gebruik hul eie geld, asook skenkings soos Fourie s’n om die kinders te versorg en vir hulle ‘n veilige vesting te gee.
Hulle vervoer die kinders na hul onderskeie skole, voed en klee hulle, maar bo alles gee hulle liefde en die sekuriteit van ‘n ouerhuis. Een van die inwonertjies is ‘n gestremde seun wat met liefde versorg word.
Die du Toits streef daarna om vir hulle kinders ‘n goeie toekoms te verseker en dat hulle in staat sal wees om hul talente uit te leef.
Koks vertel die naam Poppiehuis het posgevat nadat sy en Riaan hul eerste dogtertjie in 1988 in pleegsorg geneem het. Die kind se naam is Poppie en hulle het baie kinders soos sy na haar versorg. Hulle het ‘n passie om kinders te versorg en hul roeping om kinders te versorg, uit te leef.



