Smurfland Kleuterskool se kinderstemme kon gehoor word by die N17 Hospitaal verlede Donderdag.
Volgens die hospitaal se bemarkingsbestuurder Leana Haywood, is hierdie ‘n jaarlikse instelling.
Dit was vir die kinders te lekker om die basiese stappe van higiëne te leer.”Ons het besluit om hulle hierdie jaar iets oor higiëne te leer.
“Elkeen is gewys hoe om met jou hand voor jou mond te hoes, om jou hande deeglik te was nadat jou neus geblaas is veral voor jy met kos werk.”
Nadat almal se hande gewas is het hulle met groot vreugde die verskillende kleure versiersuiker gekies en self ekstra lekkernye op die klaargebakte ‘cupcakes’ gepak.
Leana sê elkeen het sy eie versierde ‘cupcake’ geëet.
Kliniese dosente Jeanine Storm en René Odendaal sowel as verpleegstudente het hand bygesit met die handewas en koekversieringsproses.
Selfs Eunese Beukes van Smurfland het hand bygesit om die opgewonde woelwaters rustig te hou.
Elke kleuter het ook ‘n koekie seep gekry om huistoe te neem en vir hul ouers te wys wat hulle op dié dag geleer het.



