Local newsNews

Bennie roep Metrorail vaarwel na 41-jaar diens

Hy op die tradisionele boere manier afskeid geneem

Bennie van der Merwe (58) groet Metrorail vaarwel na 41-jaar diens.

Hy het verlede Dinsdag van sy kollegas afskeid geneem op die tradisionele boere manier – met worsrolletjies, braaivleis, pap en sous.

Nadat hy sy skoolloopbaan by Laerskool Welgedacht en Hoërskool Sundra voltooi het, het die familie Bloemfontein toe verhuis.

“Op 15 Oktober 1973 het ek as stoker by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawe begin werk,” sê hy.

Stokers se verantwoordelikheid was om kole in die lokomotiefoonde te gooi om stoom te voorsien wat die lokomotief aan die beweeg bring.

Sy droom om treindrywer te word het in 1980 gerealiseer.

Hy het by die Drywers Kollege in Enslin Park, Kempton Park, gekwalifiseer en reken dit was die beste besluit nog.

Sy belangstelling in lokomotiewe is as kind geprikkel.

Sy pa was ‘n rangeerder en hy wou altyd weet hoe die lokomotiewe ‘operate’.

In 1981 het hulle teruggetrek na Springs en hy het tot 1993 by Welgedacht depot gewerk as drywer van goederetreine.

Die skuif na Springs Stasie het in 1993 gekom waar hy voorstedelike treine gedryf het.

Die beroep het hoogtepunte en laagtepunte, en een van die laagtepunte was toe die trein waarvan hy drywer was iemand doodry het tussen Springs en Johannesburg.

Hy sê dit neem ‘n trein ten minste 1km om te stop, afhangende van die spoed.

Indien iemand in die pad van die trein kom, blaas die drywer ‘n toeter en trek die rem.

Maar die dag was ‘n ongeluk onvermydelik.

Hy sê hy is wel vir berading gestuur maar dit bly altyd by hom.

Van stoutighede kan Bennie baie vertel, maar iets wat hy altyd sal onthou is die tye wat hulle gestop het om mielies te steel langs die spoorlyn.

“Ons het sommer die mielies in die lokomotief gekook,” skerts hy.

Soms het hulle vleis saamgevat, die kolegraaf gewas en vleis daarin gebraai op die ‘firebox’.

Vroulief Marie van der Merwe sien uit om hom op ‘n permanente basis by die huis te hê.

“Hy was baie van die huis af weg, maar nou kan ons meer tyd saam deurbring en weggaan,” sê sy.

Volgens sy toesighouer Koos Pretorius, was hy ‘n toegewyde man wat nie gehuiwer het om op sy afnaweke uit te help nie.

As Cheetah ondersteuner sal hy nou geen wedstryd misloop nie.

Alhoewel hy nie ‘n rolmodel het nie, ag hy homself as nederig en steun hy op sy geloof, want volgens hom is mense feilbaar.

Iets wat hom ook gaan besig hou is sy liefde om karre reg te maak.

“Ek hou ook van sweiswerk,” sê hy.

Alhoewel hy nie sy kinders baie gesien het nie, glo hy in hegte bande met die familie en wil hy meer tyd met sy familie deurbring.

Volgens die Springs depot bestuurder Pottie Potgieter, was Bennie bekend as die plaaslike ‘faulty’ wat hulle baie gaan mis.

“Hy was altyd bereid om te help. Ons gaan hom mis, maar wens hom alles van die beste toe.”

Na 41 jaar groet Bennie sy kollegas met ‘n goeie gesindheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button