Local newsNews

Kerkgebou kry nuwe lewe

Die Auxano Advent gemeente vestig hulself in historiese gebou.

Een van die oudste Afrikaanse kerkgeboue in Springs se voortbestaan is verseker nadat die Auxano Advent gemeente van die Lede in Christus Kerk dit bekom het.

Dié historiese kerk op die hoek van Plantationstraat en Tweedelaan in Geduld was vir jare die gebou van die NG Kerk Geduld.

Die gebou is einde verlede jaar deur die Lede in Christus Kerk op ‘n veiling vanaf die NG gemeente Springs-Noord bekom om die Auxano Advent gemeente daar te vestig.

Jannie Ollewagen, een van die Auxano gemeente se kerkraadslede het gesê Auxano het op 1 Februarie vanjaar weer hierdie historiese kerk se deure geopen.

Die eerste erediens van die gemeente in hul nuwe tuiste was deur ds Ernie Rex, ‘n voormalige dominee van die NG Geduld behartig.

Ollewagen sê hierdie nuwe gemeentetuiste is met ‘n erediens en samekoms vir oud-lidmate en vriende op 19 Oktober gevier.

Dit was ook om vir die NG gemeente Springs-Noord dankie te sê dat hulle Auxano se bod aan hulle gemeente toegestaan het.

Leeraar Theo Marais het die diens gelei en daar was sangers soos Johan en Yvonne de Kock en Michelle Ras, asook ‘n orrelis Eljoea Bouman wat opgetree het.

Daar was ook oud-lidmate teenwoordig wat in hierdie kerk getrou het, aangeneem en voorgestel is en op kerkrade en ander rade gedien het by die geleentheid.

Ollewagen vertel die gemeente het op 19 Maart 1920 met 390 lidmate begin en het in 1938 die erf waarop dit staan vir ‘n bedrag van 25 pond aangekoop.

Die grond het vroeër aan die destydse president Paul Kruger behoort.

Die hoeksteen is op 17 Junie 1939 gelê deur ds DJS Malan en in November van dieselfde jaar is die kerk ingewy, waar ds JHM Stofberg die prediker was.

Ollewagen sê die Auxano Advent gemeente beplan om die kerk op te knap en ‘n saal, kombuis en toilette aan te bou, asook om die gebou gestremde-vriendelik te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button