’n Koppie vir Kanker
Die NG Kerk Springs-Noord hou ’n Koppie vir Kanker op 17 Oktober ter herinnering van Wilmari van Kraayenberg (née Fleishman).

Wilmari, ’n voormalige hoofmeisie by Laerskool Jan van Riebeeck en Hoërskool Hugenote, en later onderwyseres by Laerskool Selection Park, is in drie jaar met vier verskillende soorte kanker gediagnoseer en moes ’n dubbele mastektomie ondergaan.
Voor sy haar doelwit om fondse in te samel vir die Kanker Vereeniging van Suid-Afrika (Kansa) kon bereik, het Wilmari haar stryd teen kanker op 7 Mei verloor.
Maritha de Beer, voorsitster van die kerk se Vroue Aksie groep, vertel hoe dit Wilmari se droom was om terug te gee aan Kansa en dat die groep graag haar droom wil bewaarheid.
Gospelsanger, Benice Borman, het dadelik aan boord gespring en tree verniet by die geleentheid op. Individue wat kanker oorwin het en wat iemand aan kanker verloor het, gaan ook op die dag ’n praatjie lewer.
Tee en koffie met heerlike lekkernye sal voorsien word en daar gaan ook pryse te wen wees met lootjies.
Die geleentheid begin om 10vm by die kerk op die hoek van Bothastraat en Milnerlaan in Geduld Uitbreiding.



