NewsSchools

Pammies groet Denise

Laerskool PAM Brink groet een van hul staatmaker onderwyseresse Denise van der Riet (60) na 36 jaar se diens.

“Geen taak was ooit te groot of van minder belang vir haar nie,” sê Anton Jansen van Rensburg, die skoolhoof.

Tydens haar afskeid op 27 Januarie, wat by die skool gehou is, het die hoof haar bedank vir die boustene wat sy in baie leerders se lewe gelê het.

Volgens hom was Denise altyd ‘n lojale voorbeeld van ‘n professionele en toegewyde onderwyseres.

As jong ongetroude en pas afgestudeerde onderwyseres het Denise van der Post in Januarie 1977 begin skoolhou by Laerskool PAM Brink.

Na sewe jaar se diens by dié skool, het Denise die skool later in Julie 1985 verlaat om by die Pinegrove Primary School te gaan skoolhou.

Die destydse skoolhoof van Laerskool PAM Brink, Arthur Paul, het haar aanhou smeek om terug te kom en kort voor lank het sy teruggekeer na Pammie-land as Engelse departementshoof.

Alhoewel sy verskeie vakke onderrig het, was Engels haar geliefkoosde vak.

Die hoof sê sy was ‘n hartsvertroueling vir leerders met probleme.

“Denise het niks ontsien om te sorg dat elke kind sy plek volwaardig by die skool volstaan nie,” sê hy.

In 2008 is Denise bevorder tot adjunkhoof van die skool.

Dié pos het sy beklee tot en met haar laaste dag by die skool op 29 Januarie.

Tydens haar afskeidstoespraak het sy haar kollegas oor die jare bedank.

Sy het ook foto’s gewys van hoe die skool ontwikkel en verander het.

Daar het sy ook besonderse dank uitgespreek teenoor haar gesin.

Haar eggenoot van 36 jaar Henry van der Riet, en dogter, Christie van der Riet, het die spoggeleentheid bygewoon.

Gideon Hattingh, ‘n voormalige skoolhoof, onder wie sy 14 jaar gewerk het, het ook haar deugde as onderwyseres en departementshoof besing.

Volgens die hoof sal Denise se aftrede gevoel word.

“Al die jare se ervaring en die besonderse professionele wyse waarop sy haar beroep beoefen het, sal in die besonder gemis word,” sê hy.

Denise en haar man, beplan om in Hermanus in die Wes-Kaap te gaan aftree.

“Dit is ‘n nuwe uitdaging, maar ‘n welverdiende ruskans,” sê Denise.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button