Só kan jy ‘n bejaarde hierdie Kersfees help
Solidariteit Helpende Hand het ’n projek van stapel gestuur om vanjaar ’n verskil te maak in die lewens van bejaardes wat nie naasbestaandes het nie, of wat ’n klein bederf op Kersfees sal verwelkom.
Solidariteit Helpende Hand het ’n projek van stapel gestuur om vanjaar ’n verskil te maak in die lewens van bejaardes wat nie naasbestaandes het nie, of wat ’n klein bederf op Kersfees sal verwelkom.
Die organisasie wil sorg dat ten minste 400 bejaardes van Brakpan en Springs ’n bederfboksie vir Kersfees sal ontvang.
Die publiek se hulp word egter benodig om van die projek ’n sukses te maak.
Esmé Strauss van Solidariteit Helpende Hand se Brakpan-tak het verduidelik dat die organisasie soveel skoenbokse moontlik wil volmaak met lekkergoed, toiletware, asook ’n notaboekie en pen.
“Ons sal die bederfboksies aan bejaardes by verskeie instansies in Brakpan en Springs besorg,” het Strauss verduidelik.
Die publiek word versoek om ’n skoenboks met die genoemde items te vul en dit na Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel te neem.
Die winkel is agter Benn’s Apteek in Voortrekkerweg geleë.
“Persone wat nie ’n boks kan volmaak of dalk nie ’n skoenboks het nie kan vir ons lekkergoed, toiletware, asook notaboekies en penne skenk sodat ons dit self kan verpak,” het Strauss gesê.
Nog ’n persoon wat reeds hard agter die skerms aan die werk met die projek is, is Martie de Villiers, wie bekend is vir haar betrokkenheid by plaaslike tehuise vir bejaardes in Springs.
“Solidariteit Helpende Hand Brakpan-tak verwelkom haar hartlik as deel van ons span,” het Strauss gesê.
Vir meer inligting of om reëlings te tref kan die publiek vir Strauss by 084 225 9100 kontak.



