Local newsNews

Vroeggebore baba vaar goed

Hierdie pienkvoet het 'n gewig 630g met geboorte gehad.

‘n Paartjie van Strubenvale se lewe het drasties verander toe hulle pienkvoet ongeveer 80 dae te vroeg gebore is.

Marco (27) en Niké Muller (25) het aanvanklik ‘n doodgewone opvolg afspraak by hul dokter gehad toe hulle uitvind dat baba Marné nie voedingswaarde ontvang nie.

“Dit was ‘n skok om te hoor dat sy nie besig is om te groei nie,” het Niké gesê.

Hul baba dogtertjie kon nie groei nie omdat Niké op 25 weke preeklampsie ontwikkel het. Preeklampsie affekteer die are wat bloed na die plasenta voer.


READ MORE: The health benefits of yoga for kids of all ages


Dit het dus verhoed dat Marné minder bloed, suurstof en voedsingswaarde ontvang het. Niké was onmiddellik opgeneem in Medikliniek Kloof Hospitaal in Pretoria om haar en baba Marné te monitor.

Marné was in daardie stadium nie sterk genoeg om uitgehaal te word nie en die dokter het geglo dat sy nie 26 weke sou maak nie.

Marné was slegs as ‘n fetus gesien en daarom het die dokter besluit om te fokus om Niké gesond te kry.

“Ek het vir Marco gesê dat wanneer hy die keuse moet maak dat hy vir Marné moet kies. Dit was ‘n baie moeilike tyd in ons lewe,” het Niké gesê.


READ MORE: Four winter essentials to keep baby healthy


Niké se bloeddruk het steeds nie gedaal nie en Marné is op 28 weke deur ‘n noodkeisersnit gebore.

“Ek was reeds by die werk toe sy my bel en sê dat ek hospitaal toe moet kom. Ek het nog nooit Pretoria so vinnig gehaal nie,” het Marco met ‘n glimlag gesê.

Marné is toe op 3 Maart met ‘n gewig van slegs 630g gebore. Die dokters het haar vinnig vir haar ouers gewys voordat sy na die pasgebore intensiewe sorgeenheid geneem is.

“Sy is werklik ‘n wonderwerk,” het Niké bygevoeg.

Haar stembande het op daardie stadium nog nie ten volle ontwikkel nie en daarom het sy nie met geboorte gehuil nie.

Sy moes vir die eerste maand in ‘n donker broeikas lê waar geen ventilasie deur mag gaan nie.

Baba Marné is tans al meer as 100 dae in die intensiewe sorgeenheid. Dié paartjie ry daagliks na die hospitaal om hul baba dogtertjie te besoek.

“Ons ry elke dag na werk deur en op naweke spandeer ons gewoonlik al ons tyd daar,” het Niké gesê.

Marné ontvang gereëld bloedoortappings en is nog op ‘n voedingsbuis. Sy weeg tans 1.45kg en het in Mei ‘n terugslag ervaar toe sy nie gewig opgetel het nie.

Hulle wag tans vir die uitslae van metaboliese toetse om vas te stel of daar onderliggende probleme is.

Niké het op haar aanvanklike geboortedatum wat 22 Mei was, haar babatee gehou en beweer dat Marné die klere wat sy ontvang het, vir nog baie lank nie sal kan dra nie.

Dit het emosioneel ‘n baie groot uitwerking op ons as ouers maar ons moet sterk staan vir haar.” Tot hede het geen familielede vir Marné ontmoet nie. Na bewering mag sy eers op 2kg huis toe gaan. “Sy is baie sterk, sy is ‘n regte vegter.”

“Sy moet nou net huis toe kom. Ek sal enige iets gee om saam met haar te deurnag, net om haar by die huis te hê,” het Marco gesê.

Volgens hom bel hy vyf keer per dag om te hoor hoe dit met haar gaan omdat haar toestand baie vinnig kan verander.

Die paartjie sê Marné lyk steeds soos ‘n pasgebore baba en dat haar vroeggebore klere haar nog lank nie gaan pas nie. Alhoewel dit ‘n groot aanpassing gaan wees wanneer sy uiteindelik by die huis is, sien hulle baie daarna uit.

“Marné gaan eendag ‘n baie goeie getuienis wees,” het Marco gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button