Ouers bly positief oor vroeggebore baba
Marné Muller is al meer as 160 dae in die intensiewe sorgeenheid.
Alhoewel die vroeggebore Marné Muller steeds nie tuis is nie, staan sy sterk na die afgelope paar maande se terugslae.
Die Advertiser het vroeër vanjaar oor dié dapper dogtertjie berig. (Klein vegtertjie ongeveer 8 dae te vroeg gebore)

Haar ouers Marco (27) en Niké (25) Muller beskryf haar as God se wonderwerk prinses.
Marné is op 3 Maart met ‘n gewig van slegs 630g gebore.
Sy het 80 dae te vroeg haar verskyning gemaak en is sedertdien in Mediclinic Kloof Hospitaal in Pretoria.
“Dit is vir ons as ouers die moeilikste tyd in ons lewens.
“Ons het nooit gedink dat sy vir meer as vyf maande weg van ons sal wees nie,” het Marco gesê.
Dié paartjie ry steeds daagliks na Pretoria om hul dogter te besoek.
“Ek mis haar elke sekonde van elke dag,” het Niké aan die Advertiser vertel.
“Dit is bitter moeilik, maar ons moet positief bly en moed hou.”
Also read: Vroeggebore baba vaar goed
Sedert die laaste berig het Marné verskeie terugslae beleef.
Die grootste terugslag vir die gesin is dat haar liggaam nie self glukose kan stoor nie en daarom is sy op permanente voeding.
Sy het ongeveer drie weke gelede ‘n lewer biopsie ondergaan, asook toetse wat na Amerika gestuur is om die oorsaak van die probleem vas te stel.
Marné het ook op 7 Julie haar linker arm gebreek nadat sy vermoedelik weg geruk het toe daar bloed getrek is.
Sy is op hierdie stadium te klein vir ‘n operasie of selfs gips en daarom het haar arm steeds nie vasgegroei nie.
Die klein vegter is al meer as 160 dae in die intensiewe sorgeenheid en ontvang steeds gereelde bloedoortappings.
Alhoewel sy agteruitgang beleef, vaar sy goed met ‘n gewig van 1,9kg.
In hierdie stadium is daar geen aanduiding van wanneer sy huis toe sal gaan nie.
Deur dié moeilike tyd probeer die gesin egter om positief te bly.
“As man en vrou klim ons hierdie berg saam en ons sal die bopunt bereik met die Here se genade.”
Sedert Mei ontvang die paartjie enorme mediese rekeninge.
Hulle het op 22 Julie ‘n BackaBuddy rekening gestig om te help met hul oortollige mediese onkostes.
Individue wat dié gesin finansieel wil bystaan kan aanlyn op Marné Muller Medical Campaign donasies maak.
Follow us on our social media platforms:





