Oorbodige items kan ‘n kind help studeer
‘n Prys van R10 000 is op die spel vir skool wat meeste punte verdien.
Solidariteit Helpende Hand nooi Springs se skole uit om aan die Oos-Randse Ons Winkel skole kompetisie deel te neem en sodoende ‘n moontlike R10 000 in die sak te steek
Leerders word gevra om ou klere, skoene, speelgoed, skryfbehoeftes, sporttoebehore of enige iets anders wat by hul huise oorbodig is, na hul skole te neem.
Elke skool kan self besluit of hulle die skenkings weekliks of maandeliks wil ontvang. Vir elke skenking kry die skool ’n aantal punte, byoorbeeld 50 punte vir ‘n sak klere.
Elke leerder wat ’n skenking bring, kry ’n koepon waarop hy of sy hul skool se naam invul voordat hulle dit in die houer plaas wat Helpende Hand aan die skool verskaf.
ALSO READ: Bring your loved ones to the Springs parkrun and get healthy together
’n Helpende Hand projekleier sal die houer met ingevulde koepons weekliks of maandeliks (soos dit die skool pas) leegmaak wanneer die skenkings by die skool opgelaai word.
Leerders en hul ouers kan ook hul skenkings by Ons Winkel in Springs, wat op die hoek van Derdestraat en Negendelaan geleë is, gaan aflaai in plaas daarvan om dit na ’n skool te neem.
Die winkeleienaar sal dan vir die skenker ’n puntekoepon gee om by die skool in die houer te plaas. Winkeleienaars kan ook groot items soos ’n yskas of wasmasjien by ’n leerder se ouerhuis gaan oplaai en die puntekoepon vir die gesin gee.
“Jou skool se deelname aan die kompetisie sal nie net help om armoede aan die Oos-Rand en jou eie dorp te verlig nie, maar ook ’n behoeftige leerder in staat stel om te gaan studeer,” het die voorsitter van Springs se tak, Martie de Villiers, gesê.
“Die donasies wat die Ons Winkels ontvang, word verkoop en ’n deel van die wins word gebruik om vir ’n student
’n rentevrye studielening te gee. Enige matriekleerder kan by Helpende Hand aansoek doen om ’n rentevrye studielening wat hulle in maandelikse paaiemente aan Helpende Hand terugbetaal sodra hulle klaar studeer het.
“Met die maandelikse terugbetalings van ’n studielening kan ’n volgende student weer studeer,” het de Villiers verduidelik.
Die skool kan ook by die kompetisie baat. In elke skool sal ’n klas as wenner aangewys word, en elke leerder in daardie wenklas sal ’n koopbewys ontvang wat hulle by die naaste Ons Winkel aan die skool kan spandeer.
Die wenskool aan die Oos-Rand wat die meeste punte met skenkings verdien, sal ‘n kontantprys van R10 000 wen en in die Helpende Hand se “Hall of Fame” vereer word.
Die wenskool aan die Oos-Rand waar die meeste ondersteunersvorms ingevul word deur persone wat by Helpende Hand wil aansluit, sal ook R10 000 kontant wen. Die kompetisie sluit einde Julie 2023. Vir meer inligting kan de Villiers by 082 579 9755 geskakel word.



