
‘n Regte grapjas wat enige vertrek met haar glimlag kon ophelder, is hoe Kaylin de Lange se gesin haar altyd sal onthou.
Haar naasbestaandes en vriende is in rou gedompel nadat Kaylin skaars ‘n week en ‘n half na haar 23ste verjaarsdag, op 31 Januarie oorlede is.
“Die Here het sy kind rustig in haar slaap kom haal,” is hoe haar ma Julie (46), haar afsterwe beskryf.
“Sy was enig in haar soort, met haar sagte hart en aansteeklike glimlag. Ek gaan elke liewe deel van haar mis.”
Die gesin, wat in Selection Park woon, vertel Kaylin was iemand wat altyd baie liefde gegee het en nooit iets terug verwag het nie.
Sy het in 2019 aan die Hoërskool Hugenote matrikuleer waar sy bekend was vir haar talente op die sportveld en op die verhoog in toneelspel. Kaylin het in haar matriekjaar op die leerlingraad gedien en ook haar plek op die top 20 akademie verdien.
Sy het twee jaar vir die eerste hokkiespan uitgedraf. Aktrise van die jaar en beste aktrise vir ‘n toneelstuk is maar net ‘n drupel in die emmer van al die toneel toekennings wat sy oor die jare verwerf het.
Haar liefde vir toneelspel het reeds op die ouderdom van sewe begin toe sy by Ananya Drama Skool aangesluit het. Maar haar toneel talent het eers later behoorlik opgevlam toe sy by Hugenote haar stempel afgedruk het.
“Daar het sy haar liefde vir toneelspel ontdek; om deur ‘n karakter in ‘n ander wêreld in te gaan,” het Julie verduidelik.
“Daar was nie ‘n dag wat Kaylin nie met ‘n glimlag kom oefen het nie,’ het Kobus van der Schyff-Smal, regisseur van Hugenote toneel vertel.
“Sy het altyd ‘n manier gehad om enige iemand te laat lag.
“Kaylin sal vir ewig saam ons op die verhoog wees. Haar teenwoordigheid was te groot om ooit van haar te kan vergeet,” het hy bygevoeg.
Kaylin was besig met haar baccalaureus graad in regte aan die Universiteit van Suid-Afrika en sou in Junie vanjaar dié graad verwerf het.
“Sy het altyd presies geweet wat sy wil hê en het dit met deurnis aangedryf om haar doelwitte te bereik,” het haar ma gesê.
‘n Gedenkdiens het op 8 Februarie by AGS Lofoord, Strubenvale plaasgevind.