Jurie maak naam vir homself in Kaapstad
"As ‘n mens se drome jou nie bang maak nie, hoekom droom jy dan?"
Die talentvolle Jurie Boshoff is besig om vir homself groot naam in die vermaaklikheidsbedryf te maak.
Die 21-jarige was onlangs op die verhoog te sien in die gewilde Legally Blonde musiekblyspel wat in Kaapstad afgespeel het.
Jurie het in 2021 aan die Hoërskool Hugenote matrikuleer (waar hy hoofseun was) en dit is hier waar hy sy passie vir toneelspel ontdek het.
Nadat hy vir die eerste keer op 16-jarige ouderdom die toneelverhoog betree het, het hy geweet dat dit die plek is waar hy hoort.
“Wanneer ’n mens by die skoolsaal ingestap het vir repitisies kon jy totaal en al van die dag vergeet wat jy gehad het,” het Jurie vertel.
“Om ‘n karakter te speel en vir daardie rukkie en in iemand anders se skoene te loop was groot pret.”
Hy het in sy matriekjaar sy rugbystewels opgehang om al sy aandag aan toneelspel te kon gee.
“Toneel het toe reeds my hart oorgevat. Ek het aanvanklik nie eers geweet dat mens iets soos drama kan studeer nie, maar toe ek uitvind dat universiteite dit aanbied was daar geen omdraai kans nie.”
Na skool het hy sy hele lewe opgepak en na die Kaap verhuis om sy studies daar af te skop. Hy is tans in sy derde jaar met BA Drama en Teater Studies wat hy aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.
Hy beskryf sy kursus as veeleisend, maar tog lekker omdat sy passie daarvoor so groot is.

‘n Oud-lektor van Jurie het hom verlede jaar genader om vir die musiekblyspel Legally Blonde ‘n oudisie af te lê, omdat iemand op die laaste nippertjie moes onttrek.
Hy het nie geskroom om vir die oudisie te gaan nie en sommer dadelik met repetisies weggespring.
“Dit was nogal intimiderend omdat almal reeds drie maande lank saam repeteer het toe ek eers daar aangesluit het,” het hy vertel.
Gelukkig kon Jurie vining opvang en sy ervaring in toneelspel het in sy guns getel. Hy vertel hoe lekker dit vir hom is om die verhoog met sy medespelers te deel.

“Ek moet sê ek geniet die gehoor ook vreeslik, dit is lekker om te sien hoe hulle ons optredes geniet.”
Jurie raak steeds voor elke optrede senuweeagtig.
“Alhoewel my kursus my baie oor verhoog ervaring leer, dink ek tog dit is goed om bietjie senuwees te ervaar voor ‘n optrede. Dit wys dat mens ‘n sukses hiervan wil maak.”
Die Legally Blonde musiekblyspel het vanaf 3-18 Februarie by die Artscape teater in Kaapstad plaasgevind.
Jurie hoop dat dié nog baie deure vir hom in die toekoms sal oopmaak maar sy grootste droom is om eendag saam met die beroemde akteurs van Amerika te werk.
“As ‘n mens se drome jou nie bang maak nie, hoekom droom jy dan?”



