Local newsNews

Aftrede sorg vir lang vakansie

Die egpaar sien uit na die lang vakansie en wat daarna sal volg.

Die einde van ‘n loopbaan sorg vir lekker vrye tyd maar vir Estelle Marais (60) sal verveeldheid nie deug nie en sy gaan hierdie vrye tyd tot haar voordeel benut.

Hierdie passievolle onderwyseres het verlede week na 36 jaar uit die onderwys uitgetree. Estelle het in 1987 haar loopbaan by Hoër Meisiesskool Hugenote, wat vandag as Hoërskool Hugenote bekend staan, afgeskop.

Hier het sy Afrikaans aangebied en ook vir ‘n paar jaar as departementshoof van die Afrikaanse departement gedien.

Sy was nie net akademies gedrewe nie, maar het dikwels haar stem op die atletiek- en netbalbaan dik gemaak as afrigter.

Estelle se onderwysloopbaan spreek van nostalgie en sy vertel staaltjies van die verlede met ‘n glimlag op haar gesig.

Sy beskryf Hugenote as ‘n lekker werksomgewing wat haar deur die jare baie werksbevrediging gebied het.

“Ek gaan dit vreeslik mis, dit weet ek vir seker,” vertel sy.

“Dit was vir my ‘n voorreg om al die jare hier te kon werk en my bloed sal altyd maroen bly.”

Estelle het nooit gedink dat sy in die onderwys sou beland nie maar hou vol dat die Here ‘n ander plan met haar lewe gehad het.

“Vandag weet ek dat Hy my geroep het om ‘n onderwyseres te word,” vertel sy trots.

Die 60-jarige Estelle gaan egter nie ledigheid of verveeldheid vermaak met al die vrye tyd tot haar beskikking nie. Sy skop haar aftrede met ‘n 52 dae reis deur Namibië en Botswana af.

Sy en haar man Frans (63) wat reeds verlede jaar die tuig neer gelê het, laat nie op hul wag nie en het verlede Woensdag direk nadat die skool gesluit het, reeds in die pad geval.

Die egpaar is op reis saam met ‘n groep vriende wat al vanaf 2022 beplan aan die toerprogram van die vakansie.


Estelle Marais het vir 36 jaar haar passie by Hoërskool Hugenote uitgeleef.

Die toer skop in die Noord-Kaap af waar hulle Kakamas en Springbok will verken. Die groep beplan om by die Sendelingsdrif grenspos in die Richtersveld met die pont oor die Orjanjerivier na Namibië te vaar.

Hulle gaan in die Noord-Weste van Namibië die karavaan afhaak om by Opuwo se watervalle ‘n draai te maak. Ai-Ais, Swakopmund, Tsumeb en Outjo is ook op die Namibiese toerprogram. Frans was in hierdie omgewing in die weermag en daarom wil hy op die nostalgietoer gaan.

Nadat hulle die Kaprivistrook verken het, lê Botswana se paaie vir hulle voor. Hier beplan die groep ondermeer om die Victoria watervalle te besoek en die olifante by Elephant Sands van nader te bekyk.

Hulle sal uiteindelik op 8 Mei die lang pad huis toe aandurf. Alhoewel Estelle baie opgewonde oor die reis is en dit geniet om te kamp, reken sy dat sy na haar huis en bed gaan verlang.

Na afloop van die opwindende reis beplan Estelle egter nie om stil te sit nie.

Sy geniet dit om te lees, hekel of om naaldwerk te doen en sy vertel dat sy beplan om saam met Frans rolbal te begin speel.

“Ek glo nie daar gaan verveeldheid wees nie, ek wil nie stil sit en niks doen nie. Ons gaan ons lekker besig hou.”

Related Articles

 
Back to top button