Die talentvolle Marioné Muller is besig om die leer van sukses in die vermaaklikheidsbedryf te klim. Die 17-jarige aktrise gaan binnekort haar eenman toneelstuk op die kassie ten toon stel.
Sy het vroeër vanjaar die stuk, Woorde in die water, vir die ATKV-DigiToneel kompetisie ingeskryf. Die ATKV-DigiToneel het tydens Covid-19 ontstaan om akteurs steeds die geleentheid te bied om hulle passie uit te leef.
Nadat die top 16 aangekondig is het Marioné repliek oor haar stuk ontvang en moes sodoende verandering aanbring en die toneel oorskiet.
“Net om die top 16 te bereik was reeds vir my ‘n groot prestasie. Ek het hoegenaamd nie verwag om enigsins verder te gaan nie,” vertel sy trots.
Op 3 Junie is die top 8 bekend gemaak.
“Ek het letterlik begin huil.” Om onder die top agt in die land te wees beteken dat sy deel gaan wees van die ATKV TV-realiteitsreeks, Gekies vir die kollig.”
Tydens die verfilming van die reeks sal sy weer repliek oor haar stuk ontvang en vir ‘n derde keer haar stuk oorskiet.
Die derde weergawe van die toneel sal dan op die program ten toon gestel word. Woorde in die water is deur Kobus van der Schyff-Smal geskryf. Hy het ook die regie behartig.
“My inspirasie vir die stuk het gekom toe ek ‘n berig gelees het oor bekendes soos Ingrid Jonker wat geen geld met haar werk gemaak het toe sy gelewe het nie maar eers toe sy dood is, het haar werk se se waarde die hoogte ingeskiet,” vertel Kobus.
“Hierdie stuk trek jou in die wêreld van die karakter in en gooi jou rond soos ‘n tuimeltrein. Ek dink die gehoor gaan mal wees oor die stuk omrede dit so relevant en aanloklik is.”
Volgens Marioné is Kobus fantasties in wat hy doen. Sy sien hom glo as baie meer as net ‘n regisseur.

“Vir my dien hy as ‘n ouer, onderwyser, terapeut en alles in een,” sê Marioné.
Sy beskryf die stuk ook as uniek en vertel dat sy haarself met die karakter vereenselwig en beskryf die karakter as ‘n poëtiese meisie. Marioné beskryf die verfilmingsproses as ‘n dans tussen die haar en die kamera.
“Alles moet perfek saamvloei, as ek opstaan moet die kamera saam met my beweeg,” sê sy en voeg by: “Alles is fyn geoefen sodat die video so natuurlik as moontlik moet lyk. Dit was vir my uitdagend omdat die kamera in my gesig is en ek nie iemand het teenoor wie ek speel nie.”
Marioné is tans ‘n matrikulant aan die Hoërskool Hugenote waar sy haar passie vir toneelspel verder uitleef.
Sy beplan om na skool oudiologie te studeer.
“Drama is nie iets waarmee ek ooit sal ophou nie maar ek glo dat ‘n graad my meer sekuriteit en standvastigheid sal bied.”
Gekies vir die kollig sal vanaf 14 Oktober 2024 op VIA (DStv-kanaal 147) te siene wees.
LEES OOK: Geduld SPAR deel nuwe kar uit
LEES OOK: Esda does it again with a 100% pass rate



