Nuutverkose GPF voorsitter gereed om ‘n verskil te maak
Die Springs GPF se nuwe voorsitter is onlangs gekies.
Om die voorsitter van die dorp se Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) te wees is ‘n groot verantwoordelikheid wat Hansie van Heerden nie ligtelik opneem nie.
Hansie is onlangs as Springs se nuwe GPF voorsitter aangestel toe die nuwe raadslede verkies is.
Hy is al vir twee dekades by die GPF betrokke en het destyds aangesluit omdat hy betrokke wou raak by die voorkoming van misdaad.
Hy meen dit is belangrik vir ‘n dorp om ‘n GPF te hê omdat elke gemeenskap sy eie stel probleme het.
“Ons is die oë en ore vir die polisie. Ons dien ook as skakel tussen die agentskappe vir dienslewering en om te help met sigbaarheid,” het hy vertel.
LEES OOK: Youngster ready for nationals
Wanneer Hansie nie sy GPF verpligtinge nakom nie, werk hy bedags as direkteur van ‘n vervoer maatskappy.
Hansie het uit die aard van die saak min vrye tyd maar in sy af tye geniet hy dit om tyd saam met sy familie en kleinkinders deur te bring.
Hoewel Springs se GPF tans uit ongeveer 3 000 lede bestaan, moedig Hansie inwoners aan om betrokke te raak by die beveiliging van die dorp.
As voorsitter moet hy strategies beplan vir die geveg teen misdaad, wat baie tyd, opofferings en volharding verg.
Volgens hom is dit ‘n voorreg om die gemeenskap te dien en ‘n bydrae te lewer in die geveg teen misdaad.
“Ek geniet dit om die geleentheid te kry om ‘n positiewe bydrae te lewer in diens van die gemeenskap. Dit is harde werk maar dit is lekker om die vrugte te pluk en ‘n werklike verskil te maak.”
LEES OOK: Local liquor traders recognised in Springs SAPS and GLB meeting



