Local newsNews

Mej Springs het groot planne

“Ek moet sê my senuwees was gedaan maar die oomblik toe hulle my naam lees was dit asof ‘n kalmte oor my gekom het.”

Bejandri Lourens was sonder twyfel die keuse om vanjaar die Mej Springs kroon te dra.

Dié beeldskone model het die beoordelaars se voete onder hulle uitgeslaan toe sy op 31 Augustus as die 2024 Mej Springs by die glansryke geleentheid by Die Agterplaas in Casseldale, gekroon is.

Die 22-jarige model wat haarself as passievol, hardwerkend en lojaal beskryf, meen dat sy nie vir een oomblik verwag het om te wen nie.

“Hoewel dit my doelwit was om as die wenner gekroon te word, het ek deur die proses nederig gebly en geweet dat die regte meisie sal wen.

“Ek moet sê my senuwees was gedaan maar die oomblik toe hulle my naam lees was dit asof ‘n kalmte oor my gekom het,” vertel sy.

Toe Bejandri met haar elegante smaraggroen rok op die loopplank af stap, het sy al die koppe laat draai en dadelik ‘n goeie indruk onder die beoordelaars gemaak.

Sy het op dié rok besluit omdat sy dol was oor die diamante en kant wat die rok bedek het, en die kleur het boonop haar oë gekomplimenteer. Volgens haar kon sy nie ‘n beter keuse gemaak het nie.

Sy erken dat sy na al die jare steeds gespanne raak voordat sy die verhoog of loopplank betree maar sy het geleer hoe om dit te hanteer.

“Voordat ek op die verhoog klim, haal ek diep asem en wat my die meeste help wanneer ek gespanne is, is om te bid. Dan gee ek dit net oor aan die Here en weet wat moet gebeur, sal gebeur.”


Bejandri Lourens het die koppe behoorlik laat draai tydens haar beurt op die loopplank.

Bejandri beskou haarself as ‘n ekstrovert en glo dat dit haar selfvertroue ‘n groot hupstoot op die loopplank gee.

Nadat sy vir ongeveer ‘n dekade lank modelklasse ontvang het bied sy vandag self modelklasse by haar modelskool aan.

‘n Interessante feit wat mense nie van Bejandri weet nie is dat afgesien van haar lengte van 1.62m, het sy op laerskool aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe aan hoogspring deelgeneem.

“Omdat ek so kort is, sal mense dit nie van my verwag nie maar op laerskool was ek eintlik een van die langste meisies in my graad,” sê Bejandri.


LEES OOK: WATCH: Pageant crowns Miss Springs winner


Saam met die titel van Mej Springs het sy ook groot pryse ontvang maar is glo die meeste opgewonde oor die twee aande se veblyf by ‘n wildsplaas en vertel dat die bosveld een van haar gunsteling plekke is om te ontspan.

In haar termyn is haar doelwit as Mej Springs om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

Sy beoog om iemand te wees wie Springs sal onthou vir die harde werk wat sy ingesit het. Bejandri sê ook dat haar fokus is gemeenskap projekte en dat sy reeds groot planne het.

Sy sluit af: “Dit maak nie saak hoe groot of klein jou bydrae is nie – jy het die vermoë om ‘n verskil te maak. Wanneer ons as gemeenskap saamstaan, kan ons wonderlike dinge bereik. Saam kan ons aan die toekoms van hierdie dorp bou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button