Egpaar se liefde skitter soos ‘n diamant na 60 jaar
Hierdie egpaar se verlede spreek van nostalgie en wanneer hulle daaroor praat is dit met breë glimlagte.
Hulle sê om oud te word is nie vir sissies nie, maar die MacDonald egpaar se lagplooie vertel egter ‘n heel ander storie.
Marie (81) en Chris (86) of beter bekend as Mac, het gister (Donderdag) hulle 60ste huweliksherdenking gevier.
Springs is al vir meer as ‘n dekade lank huis vir dié paartjie en die laaste drie jaar woon hulle in Casseldale.
In haar vrye tyd geniet Marie dit om te brei of lees terwyl Mac graag radio luister of na ‘n rugby wedstryd kyk.
Naas die Springbokke, is die Leeus sy gunsteling span. Familie is vir hulle baie belangrik en hulle beplan ook om hulle spesiale dag saam met familie te vier.
Uit die huwelik het hulle twee kinders, vier kleinkinders en drie agterkleinkinders. Witbank is die plek waar hulle grootgeword het, en ook waar hulle paaie jare gelede gekruis het.

Volgens Mac was dit liefde met eerste oogopslag en hy vertel met ‘n glimlag hoe hy die liefde van sy lewe ontmoet het.
Hy was in 1962 ‘n gewilde rugbyspeler vir die Suid-Oos waar hy regter vleuel gespeel het. In plaas daarvan om op die wedstryd te fokus het ‘n beeldskone blonde meisie sy oog gevang.
“Ek het vir die ouens op die veld gesê dat daardie meisie eendag my vrou gaan wees,” vertel Mac trots.
Na afloop van die wedstryd het Marie en haar vriendin huis toe gestap en Mac het met sy motor by hulle stilgehou om ‘n saamry geleentheid aan te bied.
Volgens Marie klim sy nie in vreemde mans se voertuie in nie en Mac het heel pad agter haar en haar vriendin gery om seker te maak dat hulle veilig is, en soos hulle sê – ‘the rest is history’.
Dié twee het ‘n jaar later verloof geraak en die jaar daarop, ewig trou aan mekaar beloof. Dit is al ses dekades later en hulle liefde vir mekaar is aansteeklik.
LEES OOK: Varke, stank en stof het Casseldale inwoners keelvol
Beide Mac en Marie sê die geheim vir ‘n gesonde huwelik is geduld, vertroue, kommunikasie en die belangrikste – geloof.
“Geloof speel ‘n baie groot rol in ons huwelik. Vir ons is godsdiens alles en tot vandag toe sal ons nie gaan slaap as ons nie eers saam Bybel gelees het nie,” het Mac gesê.
Marie se raad aan jong getroude paartjies is om op die Here te vertrou en geloof soos ‘n mosterdsaadjie te hê.
Alles was nie altyd maanskyn en rose nie, die egpaar het ook al talle sakke sout saam gesleep maar sê dat die
Here hulle keer op keer deur gehelp het. Die MacDonald’s se verlede spreek van nostalgie en wanneer hulle daaroor praat is dit met breë glimlagte.
Mac se sin vir humor het geen einde nie en hy sluit af met: “Om oud te word is nie grappies nie en die ding met ouderdom is dat die ‘oud’ niks is nie, dit is die ‘dom’ wat jou onkant vang.”



