Local newsNews

Laerskool Selectionpark se hoof groet

Du Plessis lê aan die einde van kwartaal vier die tuig neer.

Na 44 jaar se toewyding aan die onderwys, lê skoolhoof André du Plessis die tuig neer.

Die 65-jarige inwoner van Edelweiss sal aan die einde van hierdie kwartaal sy amptelike laaste dag by die Laerskool Selectionpark deurgebring nadat hy vir 32 jaar betrokke was by die skool.

Sy onderwysloopbaan het in 1983 begin waar hy verbonde was aan skole soos die Laerskool Harmonie en die Laerskool Môrewag voordat hy by Laerskool Selectionpark nes geskop het.

Hy het in 1993 by die Laerskool Selecionpark begin as adjunkhoof en is die volgende jaar as hoof aangestel.

Volgens hom was onderwys nooit iets waaroor hy gedroom het nie.

“Ek is ‘n tegniese man en geniet dit om met my hande te werk. Die onderwys was nooit deel van my plan nie, dit het my heel onkant gevang,” het hy vertel.

André is ‘n voorbeeld van die spreekwoordelik man van vele talente.

Hy het sy onderwysgraad aan die destydse Goudstad Onderwyskollege voltooi asook talle bykomende kwalifikasies in siviel, elektries, elektronies en rekenaarpraktyk voltooi.

Selfs na meer as vier dekades in die onderwys is hy nog nie gereed om te groet nie. Hy het reeds in Junie vanjaar sy aftreeouderdom bereik en wou graag aanbly tot die einde van die jaar.

“Ek sal baie graag nog wou aanbly; ek het vreeslik lekker hier gewerk. Selectionpark het ‘n lojaliteit wat jy op geen ander plek gaan kry nie.

Met die oog op die toekoms, beplan André om meer van sy tyd en energie te fokus op nog een van sy passies – musiek.


LEES OOK: Skoolhoof voer groot planne in die mou


Volgens hom was dit nog altyd ‘n groot droom om kitaar te speel en hy beoog om dit sommer vinnig baas te raak.

André is ook onlangs aangestel as die teater bestuurder by Laerskool Selectionpark en gaan uit die aard van die saak baie tyd by die teater deurbring.

Hy wil graag ten minste eenkeer per week tennis en rolbal speel en tussendeur sy besige skedule beplan hy om die wêreld te reis en nuwe plekke te ontdek.

André erken dat die hoogtepunt van sy loopbaan loshande die Laerskool Selectionpark se teater is, ‘n teater waarvan hy die meesterbrein was.

Hy sluit af met: “Aan die Here se goedheid is daar nie einde nie, Hy was baie goed vir my reg deur my hele loopbaan.”



LEES OOK: Hospice East Rand honours 37 years of care at AGM

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button