Afrigters gereed om ‘n blywende verskil te maak
Met twee nuwe afrigters beoog die rugbyklub om 2025 'n goeie jaar te beleef.
Die Springs Rugbyklub het onlangs die oud-skrumskakel Dean Wiehahn (33) en die oud-agtsteman Francois Prinsloo (29) by die klub se afrigtingspan betrek.
Dean, wat eers vanjaar by Springs se eerste span aangesluit het, was voorheen ook by klubs soos Tuks, Brakpan en Nigel betrokke.
Hoewel hy erken dat hy die gevoel van die spel sal mis, weet hy dat sy passie by afrigting lê.
“Rugby sal altyd my passie bly en die Here het my gehelp om te besef dat ek nie noodwendig hoef te speel om ‘n verskil te maak nie. Afrigting is deel van my roeping en waar Hy my wil gebruik,” het Dean vertel.
As speler was hy baie innoverend en as afrigter word hy geweldig hoog geag. Hy is hardwerkend en boonop vertroud met dié span se vaardige agterspelers.

Hy sal na die talente van die uiters begaafde agterspelers omsien en sy taak sal ook wees om te verseker dat die agterlyn se fiksheid en vaardighede ten alle tye tops is. Francois speel al vir 14 jaar lank vir Springs en het jaar na jaar trots in die nommer agt trui uitgedraf.
“Die klub is deel van my DNA en ek gaan dit beslis mis om self te speel. Ek wens ek kon terug gaan na my jonger self en elke wedstryd meer waardeer. Elke oomblik op die veld se bloed en sweet was die moeite werd,” het Francois gesê.
Sy taak as voorspelerafrigter gaan wees om te verseker dat die spelers nie stagneer na die grondslag wat reeds vanjaar gelê is nie.
Sy jare se ondervinding sal baie waarde tot 2025 se Ou Ryperde kan toevoeg.
Die hoofafrigter, Johan Zondagh wat self nog nuut by Spring se afrigtingspan is, is opgewonde om te sien wat beide Dean en Francois na die klub kan bring.

“Ek dink ek sal self baie by hulle kan leer.
“Dean het reeds jare se ondervinding as afrigter en ek hoop dat Francois daarin sal slaag om die voorspelers op sy vlak van rugby te kry,” het Johan gesê en bygevoeg dat hy hoop die afrigters deur die spelers respekteer sal word aangesien hulle vanjaar self nog gespeel het.
Johan glo die nuwe afrigters sal die span goed kan aanvul en moedig hulle ook aan om op die spelers te vertrou en nie hulle eie spel met die nuwe spelers s’n te vergelyk nie.
Met die nuwe bloed in die klub se afrigtingspan beloof Springs rugby om beter as ooit tevore te wees.
LEES OOK: City of Ekurhuleni gives 1 700 job opportunities to locals
LEES OOK: Residents encouraged to report illegal food-handling outlets



