800-Sitplek spog teater open deure in Springs
Lé-Encore Eben-Haeser se openingsaand het Vrydagaand plaasgevind.
Een van die grootste teaters aan die Oos- Rand het Vrydagaand amptelik sy deure op die Laerskool Selectionpark se perseel geopen.
Honderde teater liefhebbers het ‘n propvol program met vermaak deur verskeie kunstenaars geniet. Die skoolhoof, André du Plessis se teater-droom is gebore toe hy opmerk dat die leerders te veel geraak het vir die skoolsaal.
Sy aanvanklike idee was om ’n ruimte te skep waar die kinders saalbyeenkomste met gemak kan geniet. Hy het nie geskroom om werk daarvan te maak nie en konstruksiewerk het einde 2021 reeds afgeskop.
Hierdie teater, wat oor meer as 800 sitplekke beskik, sal aan die publiek beskikbaar gestel word om teatervertonings, konserte en selfs prysuitdelingsaande aan te bied.

Die naam van die teater is ook tydens Vrydagaand se glansgeleentheid onthul. Die Laerskool Selectionpark se teater staan nou amptelik bekend as Lé-Encore Eben-Haeser.
Daar is egter groot betekenis agter hierdie naam. Lé-Encore staan vir ‘n erfenis wat nooit sal ophou nie en die Hebreeuse woord Eben-Haeser beteken die hulp van die Here.
Volgens André, wat ook die bestuurder van die teater is, is die doel van die teater om die gemeenskap bymekaar te bring met ‘n verskeidenheid vertonings.
Hy hoop ook dat mense ‘n nuwe waardering vir teater sal kry. Tydens die openingsaand het André die gaste met groot dankbaarheid verwelkom. Sy seun, Ruan het die emosiebelaaide aand met ‘n kragtige boodskap en gebed geopen.
LEES OOK: Baby packs donated to Far East Rand Regional Hospital
Hy het sy pa geluk gewens met sy droom wat uiteindelik verwesenlik is en bygevoeg dat niks vir God onmoontlik is nie.
Een van die Parkie onderwysers, Nevlin Grobler het die aand afgeskop met die Christelike lied, Goodness of God.
Die res van die aand se talent was inklusief met die jong stem van Johnny Lochner en ‘n bekende in die Afrikaanse musiek bedryf, Riana Nel.
Johnny, wat agt jaar gelede die hoofseun van die skool was, was voorgestel as die eerste kunstenaar wat amptelik die teater open.
Hy het die gehoor vermaak met liedere vir jonk en oud en gesê dat dit vir hom ‘n reuse voorreg is om weer op dié skool se terrein op te tree.
LEES OOK: Local MMA fighter secures gold at 2024 IMMAF World Championships

Daarna het die alombekende Riana die gehoor behoorlik aan haar lippe laat hang, nie net met haar goue stem en opregtheid nie maar ook die staaltjies wat sy deel.
Riana het ‘n hele rits van haar oorspronklike liedere gesing en selfs ‘n lied op die plek aanmekaar geslaan vir ‘n bejaarde egpaar in die gehoor wat haar aandag getrek het.
Die teater word tans behoorlik ingewy met die Laerskool Selectionpark se revue wat vandeesweek daar plaasvind.
In die eerste week van opening het Lé-Encore Eben-Haeser reeds twee groot produksies aangebied en beloof om nog baie suksesvolle teatervertonings op te lewer.







