Dersley Park ouerpaar hoopvol dat hul baba eendag sal kan sien
Hierdie vier maande oue baba moet so gou as moontik met behandeling begin voordat sy oë verder verswak.
‘n Ouerpaar van Dersley Park se lewens het onherroeplik verander toe hul seuntjie Arlú op 23 Julie met talle gesondheidsuitdagings gebore is.
Sy 31-jarige ma, Amoreez het ‘n gesonde swangerskap gehad met geen komplikasies nie. Sy het vroeg reeds ‘n voorgeboortelike toets gedoen, wat ‘n gesonde baba bevestig het.
Op 37 weke, toe sy een van haar laaste skanderings gehad het, het die dokter opgemerk dat haar baba ‘n vergrote ventrikel in sy brein het.
Daar was vasgestel dat dit nie in daardie stadium die baba se gesondheid beïnvloed nie maar dat daar wel daaraan aandag gegee moet word sodra hy gebore is.
Na klein Arlú se geboorte is hy onmiddellik weggeneem vir ‘n MRI en CT-skandering.
“Die MRI het opgetel dat hy bloeding op die brein het en hy was vir ‘n paar dae gemonitor en op suurstof gehou,” het Amoreez gesê.
“Die omtrek van sy kop was daagliks gemeet om vas te stel of die ventrikel verder groei. Binne die eerste vyf dae het sy koppie aansienlik vergroot en hy is van Netcare Linmed Hospitaal oorgeplaas na Netcare Unitas Hospitaal in Centurion,” het Amoreez vertel.
“Slegs ‘n week na sy geboorte het hy reeds sy eerste operasie ondergaan waar daar ‘n stent aangebring is om te help met die dreinering van die vog.”
Amoreez sê dit was traumaties om te sien hoe haar weekoue baba in ‘n teater ingestoot word, maar dat hulle gedink het dit die laaste van sy gesondheidsuitdagings sou wees.
Na afloop van die operasie was Arlú ontslaan en hoewel hy goed gevaar het, het sy ma agter gekom dat hy sommige van sy mylpale nie bereik nie.
Op 23 Oktober het Arlú ‘n afspraak by ‘n pediater gehad. Soos wat hy ondersoek was en helder speelgoed of ligte voor sy oë gewys is, het hy geen reaksie getoon nie.
“Ek vermoed dat die baba glad nie kan sien nie,” was die pediater se woorde en Amoreez is onmiddellik na ‘n oogspesialis verwys.
“Ek kon sien dit was nie vir die oogspesialis maklik nie, hy was onrustig en het nie eintlik geweet wat om vir my te sê nie,” vertel ‘n emosionele Amoreez en voeg by dat daar vir haar gesê was dat haar kind waarskynlik nooit sal kan sien nie.

Arlú is met bilaterale optiese atrofie gediagnoseer. ‘n Toestand wat die optiese senuwees in die oog affekteer en visie verlies veroorsaak.
“Vir ‘n oomblik is ‘n mens in ongeloof en jy hoop dat hulle dalk ‘n fout gemaak het. Ek het daardie dag net gehuil om alles te probeer verwerk en toe besluit ek dat ek nie net gaan aanvaar dat daar niks is wat hulle vir hom kan doen nie.”
‘n Paar dae na die diagnose het Amoreez inligting oor ‘n kliniek in Duitsland bekom, wat pasiënte met optiese atrofie behandel.
Sy het dadelik werk daarvan gemaak om die nodige toetse en verslae deur te stuur om vas stel of hy moontlik ‘n kandidaat vir die behandeling is.
Weke later het die kliniek in Duitsland bevestig dat Arlú wel ‘n goeie kandidaat is om positief by die behandeling te baat.
Die kliniek raai aan dat hy so gou as moontlik die behandeling ontvang voordat sy oë moontlik verder agteruit gaan.
LEES OOK: Troubled Springs Extension residents raise concerns
Die optiese atrofie behandeling duur twee weke lank en vir die beste moontlike uitkoms gaan hy drie keer dié behandeling moet ontvang met ses maande tussenproses om die vordering van die oog te monitor.
Hoewel die gesin baie positief is dat die behandeling sal werk berei hulle hulself ook op die ergste voor. Amoreez en haar vyf-jarige seun, Diégo het onlangs begin leer hoe om Braille te lees.
“Ek het besluit as dit die Here se wil is dat Arlú wel blind moet wees dan gaan ons hom eendag moet help met skool werk maar hoe help ek hom as ek dit nie self kan lees nie.
“Dit het nou ‘n speletjie in ons huis geword waar ons kyk wie die vinnigste en meeste letters reg kan raai. Ons is almal lekker kompeterend met ons nuwe Braille speletjie,” vertel Amoreez laggend.
Sy sê is dit ‘n goeie lewensvaardigheid om Braille te lees en sy beplan om Arlú elk geval eendag te leer, of hy dan kan sien of nie.
Hulle het selfs ‘n Braille masjien aangeskaf en Amoreez is tans besig om vir Arlú ‘n brief te skryf wat hy kan lees wanneer hy ouer is.
LEES OOK: Chance Children’s Home and Nurturing Centre reopens after 18 months

In sy kort tydjie hier op aarde het hy sy ouers geleer dat die kosbaarste dinge in die lewe nie gesien kan word nie, maar wel gevoel kan word. Hy het hulle ook geleer om gesondheid nie as vanselfsprekend te aanvaar nie en om meer dankbaar daarvoor te wees.
“Mens besef nie die waarde van ‘n gesonde baba totdat jou baba nie so gesond is nie. Hy leer ons ongelooflike lewenslesse en hy het ons hele lewe handomkeer kom verander deur vir ons ‘n nuwe perspektief oor die lewe te gee.”
Arlú was verlede week vir ‘n opvolg afspraak by ‘n neuroloog en Amoreez is aangeraai om hom vroeg reeds vir intensiewe rehabilitasie, arbeidsterapie en spraakterapie te neem omdat die bloeding op sy brein moontlik van die breinfunskies kon aantas.
Hoewel die gesin nog ‘n lang pad met klein Arlú se gesondheidsuitdagings gaan stap, kyk hulle vorentoe en kies om ‘n positiewe uitkyk te hê. Hulle rig hulle oë op die Here en sê dat Hy hulle krag gee vir die pad vorentoe.
Amoreez sluit af met: “Die Here het blindes maak sien, Hy doen die onmoontlike en ek weet daar is altyd hoop.”
Die gesin het ‘n finansieringsveldtog op BackaBuddy gestig om vir Arlú se mediese uitgawes te help betaal.
Enigeen wat hulp kan aanbied kontak vir Amoreez by 079 037 4846 skakel. Volg klein Arlú se verhaal op Facebook by Arlú’s Journey to see: A Story of Hope, Strength, and Miracles.



