Geniet Liewe Heksie by Fairtree Atterburyteater
Liewe Heksie en die Tuindwergie is die laaste Liewe Heksie-storie wat Verna Vels geskryf het.
Verna Vels se geliefde Liewe Heksie, wat terloops op 42 April verjaar (ja, 42!), kruip geslag ná geslag diep in kinderharte.
Sy sukkel soms met lang woorde, maar gelukkig is Blommie die Kabouter en haar geliefde Mattewis die Kat altyd naby om te help.
Die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats kuier op die laaste dag van die skoolvakansie weer by die Fairtree Atterburyteater. Die vertoning begin om 12:30 op 14 Januarie.
Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf.
Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam.
Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans. Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die Tuindwerg ontmoet.
LEES OOK: Geduld gesin dakloos na huis brand
Toe Casper die Tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde. Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees? Die maats moet kom uitvind by die Atterburyteater.
Liewe Heksie en die Tuindwergie is die laaste Liewe Heksie-storie wat Verna Vels geskryf het, spesiaal vir Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies. Frans het sy tande geslyp by die destydse SAUK televisie as televisiekameraman.
Hy het op heelwat groot produksies gewerk, maar een van sy hoogtepunte was beslis die kamerawerk op die televisiereeks, Liewe Heksie. So het hy vir Verna Vels ontmoet, wat op daardie stadium Bestuurder van Kinderpogramme was.
“Sy was die wonderlikste en mees kreatiewe mens. Sy was bereid om al haar kennis as skrywer vir kinders met my te deel en vir my ook te leer om vir kinders te skryf.
“Ek was verantwoordelik vir ‘n hele aantal Wielie Walie-tekste, daarna het Vuurhoutjieland gevolg, Siembamba en so het ek ook my eerste kinderboek, Blouvlam die Draak geskryf onder die bekwame oog van Verna.”
Vir besprekings, besoek www.LTickets.co.za. Vir groepbesprekings en navrae, skakel Monica Booysen by (011) 815-3000 of e-pos admin@lefra.com.
LEES OOK: Teens invited to play their part in protecting SA’s national parks



