Van karwag tot entrepreneur
Dit is vir Rudolph belangrik om sy medemens te lewe te vergemaklik.
Maak nie saak hoeveel klippe die lewe na sy kant toe gooi nie, Rudolph Koekemoer glo waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.
Hierdie 42-jarige van Casseldale het tydens die Covid-19 inperking as karwag by ‘n inkopiesentrum gewerk en die nood onder bejaardes en veral gestremde mense opgemerk.
Volgens Rudolph het hy selfs ‘n droom gehad oor presies hoe hy hierdie spesifieke mense se lewens kan vergemaklik.
Hoewel die idee reeds ‘n paar jaar terug ontstaan het, het hy onlangs daad by woord gevoeg en onverpoosd aan sy rolstoel- en loopraam staanders begin werk.
Die hoofdoel van dié staander, wat agter aan ‘n motor se sleeptang vasgemaak word, is om die vervoer van hierdie toestelle vir bejaardes en gestremde mense te vergemaklik en vereenvoudig.
Aan Rudolph se kreatiwiteit is daar geen einde nie. Hy het sy handigheid by sy pa geërf en glo van kleintyd af al handgemaakte items gemaak.
Vir hom is dit belangrik om sy medemens te help en iemand se las ligter te maak.
“Ek wil nie net een persoon help nie maar ‘n postiewe bydrae tot duisende mense lewer,” sê Rudolph.
Voordat hy karre vir ‘n lewe opgepas het, was hy betrokke in die staalbedryf en meen dit is danksy sy jare se ondervinding in dié bedryf dat hy vandag sy eie onderneming op die been kan bring.



