Padtekens in Springs word al hoe meer verontagsaam
Die Stad van Ekurhuleni sê die verontagsaming van padreëls is 'n ernistige saak.

Talle motoriste het oor die afgelope tyd hul misnoë te kenne gegee oor mede padgebruikers wat verkeerstekens verontagsaam en uit die aard van die saak ‘n veiligheidsrisiko skep.
Die gevolge daarvan kan lei tot ernstige motor ongelukke en stel onskuldige mense se lewens in gevaar.
Stoptekens is daar om gehoorsaam te word om sodoende motoriste en voetgangers se veiligheid op die pad te verseker.
Dit het, volgens een van die lesers wat gekla het, die norm geword dat motoriste bloot stopstrate ignoreer en deesdae word selfs ‘n rooi verkeerslig verontagsaam.
Nog ‘n bekommernis wat uitgelig is, is die feit dat sommige bestuurders nie eens spoed verminder by stoptekens nie en bloot net oorry sonder om links of regs te kyk.
“Hierdie roekelose motoriste het geen begrip vir ander padgebruikers of voetgangers nie,” het ’n bekommerde inwoner aan die Springs Advertiser gesê.
Volgens die Stad van Ekurhuleni is die verontagsaming van padreëls ‘n ernstige saak wat onskuldige lewens in gevaar stel.
‘n Verklaring wat die stad uitgereik het lui soos volg:
“Dit is ‘n baie ernstige saak wat onskuldige lewens in gevaar stel. ‘n Verkeerslig wat buite werking is, word as ‘n stopstraat hanteer, en die reël van ’n stopstraat is duidelik dat elkeen die reg van voorrang gegee moet word.
“Verder beteken ‘n rooi verkeerslig dat die reg van voorrang, na die kant wat op groen is, geskuif het.
“Enigiemand wat hierdie reëls verontagsaam, is nie net die oorsaak van ongelukke nie, maar plaas ander bestuurders en voetgangers se lewens in gevaar.
“Ons het wel EMPD-beamptes wat op die uitkyk is vir sulke bestuurders, maar die verantwoordelikheid lê by motoriste om die regte ding te doen.
“Daar kan nooit genoeg verkeersbeamptes wees om elke verkeerslig en stopteken te beman nie, aangesien die beamptes ook ’n plig het om misdaad te bekamp en die oortreding van bywette te hanteer.”