Frans Swart neem kykNET kykers op ‘n nostalgiese reis met Hannes van Wyk
Frans Swart gesels lekker met Hannes oor sy grootwordjare op die plaas Gruispan in die Hoopstad distrik, sy liefde vir toneel en die teater, die begin van televisie in Suid-Afrika waarvan hy deel was as kameraman, sy geliefde dramamentor juffrou Aletta Gericke, sy skryfwerk, sukses met Lefra, sy familie, die bemarking van Springs, sy liefde vir tequila en vele meer.
Frans Swart, bekende Springs inwoner, is op 25 Februarie om 21:00 die gas van Hannes van Wyk op kykNET se gewilde program Hannes Aan Huis. In dié program gaan kuier Hannes aan huis by legendes in die Suid-Afrikaanse landskap.
Frans gesels lekker met Hannes oor sy grootwordjare op die plaas Gruispan in die Hoopstad distrik, sy liefde vir toneel en die teater, die begin van televisie in Suid-Afrika waarvan hy deel was as kameraman, sy geliefde dramamentor juffrou Aletta Gericke, sy skryfwerk, sukses met Lefra, sy familie, die bemarking van Springs, sy liefde vir tequila en vele meer.
Frans het aan die Springs Advertiser vertel dat dit lekker was om saam met Hannes te kuier.
“Hy is so ‘n wonderlike onderhoudvoerder en plaas ‘n mens dadelik op jou gemak. Wat my veral beïndruk het, is die volledige navorsing wat hy gedoen het.
“Wanneer ‘n joernalis of aanbieder goeie navorsing gedoen het, dan beïndruk jy my dadelik. Hy het meer van my geweet as ek self,” het Frans laggend vertel.
Hy noem dat Hannes hom behoorlik op ‘n nostalgiese reis geneem het.
“Die man het my goed laat onthou wat ek al lankal vergeet het. Dit was heerlik om so oor ‘n lang lekker lewe terug te kyk.”
Frans is op Hoopstad in die Vrystaat gebore en het op die plaas Gruispan grootgeword. Hy het aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en in dieselfde tyd het die ontstaan van televisie vorm aangeneem.
Die SAUK het geadverteer vir kameramanne en Frans het ‘n pos gekry. As kameraman het hy op groot produksies soos Gé Sing, The Beatles Song Book, Salome en vele ander gewerk.
Maar soos hy aan Hannes vertel het, was sy groot liefde altyd die kinderproduksies. Hy het ‘n hele aantal tekste vir Wielie Walie, Siembamba en Vuurhoutjieland geskryf.

Frans beskik oor die kwalifikasies van Nasionale Diploma in Fotografie, BA en BA(Hons) in Kommunikasiekunde van UNISA, Lisensiaat in Spraak en Drama van die Akademie vir Dramakuns (ADK) en ook die Finale Diploma in Drama van UNISA.
Hy het ‘n draai gemaak by die Universiteit van die Noorde in Pietersburg as hoof van openbare betrekkinge en het daarna ‘n pos gekry as direkteur van openbare betrekkinge en bemarking by die Springs Stadsraad, waar hy klem gelê het om die bemarking van Springs.
Hy is reeds vir die afgelope 40 jaar ‘n trotse Springs inwoner. Hy was ook instrumentaal in die sukses van die destydse Springs Stadsteater.
Dertig jaar gelede het hy die bekende Lefra Produksies gestig wat bekendheid verwerf in teater, radio en televisie.
Frans is deur en deur ‘n gesinsman.
“Dit is vir my die lekkerste om saam met my gesin Hannelie, Ana, Phillru en Frans-Hendrik te kuier,” vertel hy tydens sy ouderhoud met Hannes.
LEES OOK: Motorists urged to drive safely as heavy rains increase road risks
LEES OOK: Erkenning vir Hugenote leerders en onderwysers by Oos-Gauteng Distrik Akademiese Toekennings





